Die geskiedenis van kalenders

Die meeste van ons kyk elke dag na ‘n kalender. Soms is dit om gou na te gaan wanneer ons volgende rugby-oefening of wiskundetoets is; soms is dit om ‘n vakansie vir die gesin te beplan.

Ons kan nie sonder kalenders klaarkom nie – dit hou ons georganiseerd en help dat ons nie belangrike afsprake vergeet nie.

En vir wie moet ons dankie sê vir vandag se kalenders? Vir die sterrekundiges van ouds! Kom ons kyk hoe die kalender ontstaan het.

Die Babiloniërs (2100 v.C.)

Die Babiloniërs het gewoon waar Turkye, Irak en Sirië vandag is. Hulle het die vier fases van die maan as wegspringplek vir hul kalender gebruik. ‘n Maand was nes die maansiklus 29 tot 30 dae lank. ‘n Week was sewe dae, en die laaste week van die maand was sommer agt of nege dae om die maand te voltooi!

Nes ons kalender vandag het die Babiloniërs s’n 12 maande gehad. Die jaar het in die lente begin.

Die Egiptenare

Elke jaar het swaar reën op die Ethiopiese hoogland suid van Egipte veroorsaak dat die Nyl sterk gevloei en sy walle oorstroom het. Dit het die jaar se oeste bepaal.

Die drie Egiptiese seisoene was die vloedseisoen (Junie tot September volgens vandag se kalender), die groeiseisoen (Oktober tot Januarie) en die oesseisoen (Februarie tot Mei).

Aanvanklik is die maande die “eerste maand van die vloede”, die “tweede maand van die vloede” en so aan genoem, maar later het die maande elkeen hul eie naam gekry.

Hoewel dié Nylkalender die boere gehelp het om hul plant- en oestyd te beplan, het dit nie veel nut vir die nie-boere gehad nie. ‘n Burgerlike kalender is dus later ontwikkel.

‘n Burgerlike jaar het bestaan uit 12 maande van 30 dae elk (volgens die maanfases uitgewerk), en ‘n bykomende maand van vyf dae. Hul jaar was dus nes ons s’n ook 365 dae lank.

Maar nes die Babiloniërs se maankalender het die Egiptenare s’n ook nie heeltemal uitgewerk nie omdat – soos ons vandag weet – elke jaar eintlik 365 en ‘n kwart dae lank is omdat dit is hoe lank dit die Aarde kos om een keer om die son te draai.

Die Romeinse kalender

Die vroeë Romeinse kalenders was ook maankalenders wat 10 tot 11 dae per jaar verloor het. Later het hulle die jaar in 12 maande verdeel (volgens die maanfases) wat tussen 29 en 30 dae lank was. Hulle het egter vir die derde, vyfde, sewende en 10de maand elk 31 dae gegee. Elke tweede maand was 29 dae lank, behalwe Februarie, wat 28 dae was en 29 in ‘n skrikkeljaar.

Die Romeinse kalender was dus veel nader aan die kalender wat ons vandag nog gebruik, veral wat die skrikkeljaar betref.

Die Juliaanse kalender

Die Romeinse kalender het later deurmekaar geraak omdat hoërpriesters die lengte van die jaar begin maniupleer het om te help sorg dat hul politieke vennote langer of korter regeer soos di thulle gepas het. Dit het ‘n chaos verander omdat mense buite Rome nie meer geweet het wat die betrokke dag se datum was nie.

Die Romeinse keiser Julius Caesar het in 48 v.C. voorgestel dat die kalender hervorm word en mettertyd het dit na ‘n jaar van 365 dae teruggekeer met ‘n skrikkeljaar elke vier jaar van 366 dae.

Die nuwe kalender het oor die Romeinse ryk en lande daar naby versprei. Van die maande se name gebruik ons vandag nog: Januarie, Februarie, Julie (Julius Caesar se geboortemaand), Augustus, September, Oktober, November en Desember.

Die Gregoriaanse kalender

Die Juliaanse kalender het taamlik goed gewerk, maar was nie heeltemal akkuraat nie. Die kalender het aangeneem dat daar presies 365,25 dae in ‘n jaar is, terwyl dit eintlik 365, 2422 dae is. Hierdie klein verskil van 11 maande ‘n jaar het die kalender weer laat agterraak met omtrent drie dae elke 400 jaar.

Teen die 14de eeu was die kalender al ‘n goeie week agter en in 1545 is besluit om die kalender te verander. Dit ws egter ‘n groot gesukkel wat meer as 100 jaar geduur het. Uiteindelik is die hulp van wiskundiges ingeroep en ‘n nuwe formule uitgewerk om die kalender te stabiliseer.

Die sommetjie het so gelyk: Daar sou elke vier jaar ‘n skrikkeljaar wees. Maar as die skrikkeljaar in jaar val wat deur 100 gedeel kan word, sal daardie jaar net ‘n skrikkeljaar wees as hy terselfdertyd deur 400 ook gedeel kan word.

In neutedop het die Juliaanse kalender een dag elke 128 jaar ‘n fout gehad, en die Gregoriaanse kalender net een keer elke 3 330 jaar.

Die nuwe kalender is op 15 Oktober 1582 aanvaar terwyl Gregorius die 13de pous was. Dit word die Gregoriaanse kalender geneom en is geleidelik wyd aanvaar. Party lande het taamlik lank gewag voor hulle die kalender aanvaar het – Griekeland eers in 1923 en Turkye in 1926.

Ander kalenders

‘n Handjie vol lande in die wereld volg nog nie Juliaanse kalender, en sommige ander volg sowel die Gregoriaanse as hul eie kalender.

Die Joodse kalender

Israel gebruik die Gregoriaanse kalender vir niegodsdienstige aktiwiteite soos skoolvakansies, sakevergaderings en verjaardae. Maar godsdienstige vakansiedatums word volgens die Hebreeuse kalender bepaal.

Een belangrike verskil tussen die twee kalenders is hoe dae gemeet word. IN die Hebreeuse kalender begin ‘n dag wanneer die son sak. Die Sabbat begin dus wanneer die son Vrydagaand sak en eindig wanneer die son die volgende dag sk.

Nog ‘n verskil is in die meet van die maande. Die Gregoriaanse kalender word gegrond op die posisie van die son in verhouding met die sterre. Die Hebreuse kalender grond sy maande op die fases van die maan, maar sy jare op sonjare. Dié kalender het 12 maande wat elk 29 of 30 dae lank is.

This image has an empty alt attribute; its file name is button-terug.jpg