Die maan

DIE maan begeester mense sedert die vroegste tye. Ons staar veral met die volmaan verwonderd na dié pragtige, gloeiende hemelliggaam in die aandlug.

Hoekom skyn die maan? Hoekom sien ons soms ’n dun sekelmaan, soms ’n halfmaan en ander kere ’n volmaan? Wat gebeur op die maan?

Hoe het die maan ontstaan?

Die maan is ons planeet se natuurlike satelliet en hy draai na raming al meer as 4 miljard jaar om die aarde.

Sekere wetenskaplikes reken die maan het in dieselfde tyd as die aarde gevorm; ander meen dit was ’n hemelliggaam wat te na aan die aarde gekom het en toe in ’n baan om die Aarde vasgevang is.

Die meeste wetenskaplikes is egter van mening die maan het eens op ’n tyd deel uitgemaak van die Aarde. Hul teorie is dat ’n swerwende planeet of groot stuk rots in die jong Aarde (wat toe met lawa bedek was) vasgeslaan en ’n enorme hoeveelheid aardse materiaal die ruimte ingeslinger het.

Uit dié puin het die maan ontstaan.

Kyk hierdie video oor die maan se ontstaan.

Anders as die Aarde is die maan binne-in leweloos. Daar is nie uitbarstings van vulkane nie, en hoewel daar maanbewings voorkom, is hulle maar swak.

Die maan het in sy middel ’n klein, vaste kern van yster. Hy het egter nie ’n magnetiese veld nie – as jy daar verdwaal, sal dit jou dus niks help om jou rigting met ’n kompas te probeer vind nie!

Hoewel die volmaan nie mense in weerwolwe verander soos in legendes vertel word nie, het die maan tog ’n groot en merkbare invloed op ons planeet.  Die aantrekkingskrag van die maan trek die water in die oseane na hom toe aan en veroorsaak so die getye. Mense wat by die see woon, sal twee keer per dag die eb en vloed (laag- en hoogwater) sien.

So lyk die oppervlak van die maan

Op die Aarde het ons ’n atmosfeer: ’n laag gas en vloeistof wat ons planeet teen komete en meteore (vlieënde rotse) uit die ruimte beskerm. Die maan het geen atmosfeer nie. Dis besaai met duisende kraters wat veroorsaak is deur meteoriete (rotse wat dit van­uit die hemelruim getref het). Daar is na raming sowat 300 000 kraters groter as 1 km aan net  die maan se sonkant.

Die maan met sy seë duidelik sigbaar. Foto: Lick Observatory/ESA/Hubble 

As jy van die Aarde af na die maan kyk, sal jy talle donker kolle sien. Dis lawavlaktes wat as maanseë of maria bekendstaan. In die antieke tyd het mense gedink dis oseane, maar ons weet nou dis droë vlaktes vol klein kraters.

Daar is ’n lagie stof van sowat 5 cm dik op die rotsagtige maan­oppervlak. Die stof val vermoedelik uit die ruimte en word verder deur meteorietbotsings veroorsaak.

‘n Stuk maanklip wat deur Apollo 14 terug Aarde toe gebring is. Foto: Nasa

Die fases van die maan

Die maan was miljoene jare gelede baie nader aan die aarde en het groter in die naglug gelyk. Dit het vroeër ook vinniger om sy eie as gedraai.

Die snelheid het egter mettertyd afgeneem en vandag draai die maan binne 27,3 dae om sy eie as – net so lank as wat dit hom kos om een keer om die aarde te wentel.

Dit is die rede waarom ons altyd dieselfde kant van die maan sien, terwyl die agterkant nie sigbaar is nie. Die agterkant word dikwels die “donker kant van die maan” genoem.

Mense was nog altyd gefassineer deur die verloop van die maan van ’n dun strepie lig na ’n volmaan en terug. Hierdie fases (hulle word ook skyngestaltes genoem) is daaraan te danke dat die maan om die aarde draai. Omdat die aarde tegelykertyd ook rondom die son draai, word die maan se fases elke 29 en ’n half dae herhaal.

Die vroegste beskawings het hul kalender hierop gegrond en die woord “maand” verwys na so ’n fase van die maan.

Die vier hooffases word aangedui as:

  • die nuwemaan, wanneer die maan nog nie gesien kan word nie;
  • die eerste kwartier, wanneer die regter­helfte sigbaar is;
  • die volmaan, wanneer die hele voorkant sigbaar is; en
  • die laaste kwartier, wanneer net die linker­helfte sigbaar is.
Die eerste kwartier van die maan, soos vanuit die
Internasionale Ruimtestasie gesien
. Foto: Nasa

Die tydperk tussen nuwe- en volmaan staan bekend as die wassende (groeiende) maan. Tussen vol- en nuwemaan noem ons die tydperk die afnemende maan.

So skyn die maan . . .

Die maan maak nie soos die son sy eie lig nie. Die maanlig wat ons van die Aarde af sien, is sonlig wat teen die maan weerkaats word.

Die maan skyn dus snags omdat dit die sonlig soos ʼn groot spieël in die naghemel weerkaats.

Nes die aarde is die helfte van die maan verlig sodat dit daar dag is, terwyl die ander helfte in donkerte gehul is sodat dit daar nag is. En omdat die maan om die Aarde wentel, verlig die son dit voortdurend vanuit ’n ander rigting.

As ons die kant waar dit dag is volkome kan sien, noem ons dit volmaan. Dan lê die maan agter die Aarde en word die kant wat ons kan sien, volkome deur die son verlig.

Wanneer die maan onsigbaar is (nuwemaan), lê hy tussen ons en die son. Die kant wat ons sien, kry dan nie sonlig nie. Op ander tye sien ons net die deel wat verlig word. As dit net ’n krom strepie lig is, noem ons dit die wassende (groeiende) of afnemende maan.

. . . en so word hy donker

Die volle maan se helder skyf kry tot drie keer per jaar stadigaan ’n donkeroranje kleur. Dit kom voor wanneer die aarde presies tussen die maan en die son staan.

Die maan beweeg dan deur die aarde se skaduwee. Omdat daar egter wel nog ’n bietjie sonlig is wat die maan deur die aarde se atmosfeer bereik, sien ons ’n oranje kleur.

‘n Maansverduistering met die bloedmaan in die middel (die maan wat rooi lyk omdat die Aarde se atmosfeer verby die planeet strek en ’n bietjie sonlig dus steeds deurskyn). Foto: GalloImages/GettyImages

Soms skuif die Aarde presies tussen die volmaan en die son in. Vir daardie rukkie kan geen sonlig op die maan skyn nie omdat die Aarde se skaduwee oor die maan val. Ons noem dit ’n eklips of maansverduistering. Ander kere lyk dit ook asof ’n groot monster ’n hap uit die maan gevat het. Dit is dan ’n gedeeltelike verduistering.

Maansverduisterings is oral sigbaar waar die maan vol in die lug staan. Jy kan sonder gevaar vir jou oë met ’n verkyker of teleskoop daarna kyk.

Vasvrahoekie (sal interaktief wees)

  1. Wat word die lawavlaktes op die maan genoem?
  2. Waar of onwaar: Die maan is eintlik ‘n stuk aarde.
  3. Hoekom sien ons die maan snags skyn?
  4. Hoe het die kraters op die maan ontstaan?
  5. Wat noem ons die maanfase waarinn die maan onsigbaar is?

Antwoorde

1. Seë of maria. 2. Waar. 3. Die maan weerkaats die son se lig wat daarop skyn. 4. Meteore en ander hemelliggame het daarteen gebots. 5. Nuwemaan.

Nog inligting

Kyk dié National Geographic-video oor die maan.

Artikel: Cum Laude Media, bygewerk deur Joan van Zyl

Bronne: esa.int, space.com, nasa.gove, businessinsider.co.za. forbes.com, wikipedia.org, amnh.org

This image has an empty alt attribute; its file name is button-terug.jpg