Met die maan gepla

Amerika se Apollo-ruimteprogram het met ‘n ondenkbare tragedie begin, maar in ‘n triomf vir die hele planeet geëindig. En binnkort maak hulle weer so wanneer die land se Maan-na-Mars-program afskop.

Foto regs: Apollo 11 styg op op 16 Julie 1969.

DIT was die vroeë 1960’s en Amerika was bekommerd. Die Koue Oorlog het al langer as ’n dekade
gewoed en aan die voorpunt was twee supermagte: die Verenigde State van Amerika in die weste en die Sowjetunie (vandag Rusland en omliggende state) in die ooste.

Dit was ’n wedloop om te kyk wie eerste ’n mens op die maan sou laat land – en die Russe het voorgeloop.

Teen 1961 het hulle al die eerste mensgemaakte satelliet, die eerste lewende wese en die eerste mens in ’n wentelbaan geplaas. Hulle was in staat om uit die ruimte ’n militêre aanval op Amerika te loods.

Toe word John F. Kennedy president van die VSA. En hy beloof Amerikaners: “Ek glo hierdie nasie moet hom daartoe verbind om, voor hierdie dekade verby is, ’n man op die maan te laat land en hom veilig terug Aarde toe te bring.”

President John F. Kennedy se bekende belofte om maan toe te gaan (Rice-universiteit, 1962)

Sommer gou het die hele land maankoors gehad. Cape Canaveral in Florida, waar vuurpyle gelanseer word, het ’n gewilde toeristebestemming geword, die ruimte was die grootste konsert op Aarde en die land se ruimtevaarders was oornag beroemd. By Nasa het ingenieurs en vlieëniers sonder ophou gewerk om Kennedy se belofte te bewaarheid.

Hulle het dit die Apollo-projek genoem – die land se derde ruimtevlugprogram en die een wat Amerikaners maan toe moes neem.

Toe gebeur die ondenkbare . . .

Apollo 1

In Januarie 1967 was die eerste drie Apollo-ruimtevaarders in die kajuit aan die werk toe ’n brand uitbreek. Gus Grissom, Roger Chaffee en Ed White is almal oorlede sonder dat hulle eens die Aarde verlaat het.

’n Ondersoek het gewys Nasa was onder soveel druk om maan toe te gaan dat hulle veiligheid links laat lê het. Die maanlandingskedule is met byna ’n jaar vertraag omdat ingenieurs Apollo moes herontwerp om dit veiliger te maak.

Apollo 7

‘n Paar onbemande Apollo-vlugte het gevolg. ’n Bemande Apollo – Apollo 7 – het die Aarde eers 21 maande later, op 11 Oktober 1968, verlaat.

Tydens die 11 dae lange vlug het die bemanning en die grondpersoneel die heeltyd gestry oor die hoeveelheid werk wat die ruimtevaarders aan boord moes verrig. Daarby het al drie bemanningslede verkoue gekry, wat moeilik is om in die ruimte te hanteer omdat daar nie swaartekrag is om vloeistof uit jou sinusse te dreineer nie.

Die wentelvlug was desondanks tegnies ’n sukses, want dit het gewys Apollo is gereed vir die volgende stap.

Apollo 8

Toe Amerika se spioene laat weet die Russe beplan om voor die einde van 1968 om die maan te wentel, is besluit die volgende Apollo-sending sou reguit maan toe gaan.


Apollo 8 was ’n triomf. Dit is opgestuur deur die vuurpyl Saturn V, toe die kragtigste lanseertuig op aarde.

Die bemanning het veilig teruggekeer nadat hulle die eerste mense geword het wat om die maan kon wentel, die Aarde as ’n hele planeet kon sien, die verste kant van die maan (wat nie van die Aarde af sigbaar is nie) aanskou het, en ’n aardopkoms – die Aarde wat bo die maanoppervlak verrys – beleef het.

Apollo 11

Ruimtevaarders is volgens ’n roteerbasis aan vlugte toegesê en toe daar besluit is Apollo 11 sou op die maan land, kon die bemanning nie glo dat dié groot eer hul span te beurt geval het nie. Die bevelvoerder, Neil Armstrong, is ondersteun deur die vlugbemanning Buzz Aldrin en Michael Collins.

Die lansering is vir 16 Julie 1969 beplan en meer as ’n miljoen toeskouers het by Cape Canaveral opgedaag. Regoor die wêreld was mense voor hul TV vasgenael. In Suid-Afrika was daar nog nie TV nie, maar mense met radio’s het naelkouend geluister.

Toe Nasa se beampte vir openbare betrekkinge, Jack King, klaar aftel en aankondig: “Liftoff! We have a liftoff!” het die reuse-toring brullend in die lug opgeskiet terwyl vuur en rook by sy stert uitborrel. Dit was so ’n magtige masjien dat die vensters van die beheersentrum by Cape Canaveral se Kennedy Space Center geskud het. Die groot oomblik het aangebreek . . .

Kyk na Apollo 11 se geskiedkundige opstyging.

Eers het die tuig een en ’n halwe keer om die Aarde gevlieg. Toe het die enjin weer gevuur om van die Aarde se swaartekrag weg te breek en Apollo op koers na die Maan te plaas.

Op 19 Julie was dit tyd om die ruimtetuig te laat spoed verminder sodat dit deur die maan se swaartekrag nader getrek kon word. Dit is toe dat die reis na die ware onbekende begin het . . .

“Gaan voort met ontkoppeling,” het die vlugleier, Gene Krantz, op 20 Julie vanaf die sendingbeheersentrum in Houston beveel. Die Eagle, soos die maanmodule genoem is, is van die moederskip, Columbia, losgemaak. Binne-in was Neil en Buzz. Michael het in die Columbia agtergebly.

“Gaan voort met landing,” het Gene gesê. Om hom in die beheersentrum was dit doodstil terwyl almal asem opgehou het. Toe hoor hulle Neil se stem: “The Eagle has landed!”

In hierdie video kan jy sien hoe die Eagle op die maan land.

In die beheersentrum kon die inge­nieurs weer asemhaal. Buzz het Neil op die skouer geklop. Oor die wêreld heen het mense gejuig.

Ná ’n slapie van ’n paar uur het Armstrong op 21 Julie by die Eagle se trappie afgeklim en die nou geskiedkundige woorde geuiter: “One small step for a man, one giant leap for mankind.”

Daarna het die twee ’n Amerikaanse vlag op die maan geplant en ’n telefoonoproep beantwoord van die Amerikaanse president, Richard Nixon. Hulle het ’n paar foto’s geneem, waaronder een van die eerste voetspoor van ’n mens op die maan.

Die eerste oomblikke op die maan.


Nadat hulle net minder as 22 uur op die maanoppervlak was om rotse en grond te versamel en gedenkwaardighede agter te laat, het die twee reg gemaak om te vertrek. Weer het die wêreld asem opgehou. Sou die Eagle suksesvol kon opstyg? Of sou Michael noodgedwonge alleen moes terugkeer Aarde toe?

Maar alles het volgens plan verloop. Die Eagle het opgestyg, aan die Columbia vasgemeer en al drie bemannings­lede het op 24 Julie veilig huiswaarts gekeer na ’n heldeverwelkoming en die wete dat hul name vir ewig in geskiedenisboeke aangeteken sal staan.

Die Apollo 11-bemanning

Die Apollo-bemanning (van links): Neil Armstrong, Michael Collins en Buzz Aldrin.

Neil Armstrong (1930-2012)
Hy was in die 1950’s ’n vegvlieënier in die Koreaanse Oorlog en later ’n toetsvlieë­nier (wat vliegtuie vlieg om te toets hoe goed hulle is). Ná Apollo 11 het hy by Nasa afgetree en ’n universiteitsprofessor en later ’n sakeman geword.

Michael Collins (gebore 1930)
Hy was die beheermodulevlieënier. Hy het Nasa in 1970 verlaat en sekretaris geword van die Smithsonian-instituut in Washington, die wêreld se grootste museum- en navorsingskompleks. In 1985 het hy sy eie ruimtekonsultasiefirma, Michael Collins Associates, gestig, maar deesdae is hy afgetree.

Buzz Aldrin (gebore 1930)
Hy was die maanmodulevlieënier en die enigste ruimtevaarder met ’n doktorsgraad (in ruimtevaart). Nadat hy by Nasa afgetree het, het hy bevelvoerder van die Amerikaanse lugmag se toetsvlieënierskool geword. Hy werk sedert sy aftrede hard om Amerika aan die spits van ruimteverkenning te hou en is ‘n groot voorstander van reise na Mars.

Die afloop

Die laaste Apollo-sending na die maan was Apollo 17 in 1972. Op 15 Julie 1975 het ’n Apollo-tuig ’n laaste keer die ruimte ingeskiet as deel van nog ’n geskiedkundige gebeurtenis: die eerste gesamentlike Amerikaans-Sowjet-ruimtevlug waartydens ’n Amerikaanse Apollo en ’n Sowjet-Sojoes in die ruimte aan mekaar sou vasmeer.

Dit sou ’n simbool van die einde van die ruimtewedloop en ’n meer ontspanne verhouding tussen Amerika en die USSR wees.

Die twee ruimtetuie is ’n paar uur uit mekaar gelanseer en het in ’n wentelbaan vasgemeer. Die bevelvoerders het blad geskud en vir mekaar geskenke gegee. Hulle het gesamentlike en aparte wetenskaplike ­eksperimente uitgevoer, gegroet, en toe elkeen na hul eie land teruggekeer.

Bo: Die ruimtevaarders Deke Slayton (links, Amerikaans) en Alexei Leonof (regs, Russies) het mekaar se ruimtetuie besoek. Foto: Nasa. Onder: ‘n Kusntenaarsvoorstelling van die aansluiting. Illustrasie: Nasa/R Bruneau.

Maankarretjies

Intussen sal enige ruimtemannetjie wat die maan besoek, hulle verstom aan al die voertuie wat daar rondstaan . . .

Behalwe vir heelparty ander navorsingstuie wat deur ander lande opgestuur is, is daar ook drie Lunar Rover Vehicles (LRV’s) – Amerikaanse karretjies wat deur die laaste drie bemande Apollo-vlugte in 1971 en 1972 na die maan vervoer en is uit die Apollo-maanmodule op die maan neergelaat is.

Die LRV’s, wat nie meer in werking is nie, is elektriese karretjies met vier wiele wat deur batterye aangedryf word. Hulle het plek gehad vir twee mense, toerusting en die klip- en grondmonsters wat die ruimtevaarders bymekaargemaak het. Die karretjies is deur die bekende lugvaartmaatskappy Boeing vir Nasa gebou.

Ruimtevaarders kon tot 8 km ver ry en monsters uit ’n veel groter gebied versamel sodat wetenskaplikes die maan se oppervlak beter kon leer verstaan.

Hierdie maankarretjie is deur Apollo 15 op die maan agtergelaat. Klik daarop om ‘n animasie van die maankarretjie te sien.
Foto: GalloImages/GettyImages

Die pad vorentoe

Meer as ses dekades ná die laaste Apollo-sending maan toe maak NASA weer so. Blaai na bladsy 2 om meer oor Apollo se tweelingsussie, Artemis, te lees.