Met die maan gepla

Artemis: Maan toe, en dan voorwaarts na Mars

IN DIE Griekse mitologie was Artemis die tweelingsuster van die god Apollo en daarom is Artemis ‘n gepaste naam vir die NASA-projek waarin die eerste vrou ooit op die maan sal land.

Want ja, as Nasa se strategie volgens plan verloop (en as die Amerikaanse Kongres die biljoene dollars beskikbaar stel wat daarvoor nodig is), land ‘n man en ‘n vrou in 2024 op die maan.

Boonop hoop Nasa om later dié dekade ‘n volledige basis op die maan op te rig waar ruimtevaarders vir meer as ‘n maand op ‘n slag kan bly.

Nie net gaan hulle meer navorsing oor die maan doen nie, maar die maanbesoeke sal dien as ‘n oefenlopie vir Mars. As iets verkeerdloop, is dit baie makliker om vinnig van die maan af terug Aarde toe te keer as van Mars af.

Lees ook: Kom ons gaan Mars toe!

Die maantuie

Die ruimtevaardrs sal in die Orion-kapsule maan toe vlieg en deur die kragtige vuurpyl SLS opgeskiet word. Die SLS en Orion is oorspronklik juis vir ‘n Marsreis ontwerp en gebou.

Lees ook: Die SLS en die Orion

Hoewel die SLS en Orion al gereed vir gebruik is, moet ‘n maanlandingstuig (soos Apollo se Eagle) nog gebou word en dis waaraan die meeste van biljoene dollars bestee sal waarop Nasa nog wag.

Fases van die Artemis-program

Artemis 1

Hierdie fase behels ‘n onbemande vlug om die maan in die laaste helfte van 2021 om al die belangrike stelsels van die program te toets.

Artemis 2

In hierdie fase word dieselfde vlug herhaal as met Artemis 1, maar met bemanning aan boord.

Artemis 3

Artemis 3 sal behels dat ruimtevaarders vir die eerste keer sedert 1972 weerop die maan se oppervlak land. Dit word vir 2024 beplan.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van vier ruimtevaarders op die maan. Illustrasie: NASA

Die Artemis-basiskamp

Later in die 2020’s wil Nasa ‘n basis vir mense op die maan oprig wat die Artemis-basiskamp genoem sal word. Dié kamp sal al die infrastruktuur bevat wat nodig is om die maan oor ‘n langer tydperk te verken.

Die kamp sal moontlik in die Shackleton-krater naby die maan se suidpool opgerig word. Sowat vier ruimtevaarders sal op ‘n slag daar kan bly en sal weeklange besoeke kan aflê.

Mettertyd sal ‘n infrastruktuur vir krag, vullisverwyderig en kommunikasie opgerig word, asook ‘n permanente landingsplek en ‘n skild wat ruimtevaarders teen die gevaarlike kosmiese strale kan beskerm.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die maanbasis. Illustrasie: NASA

Navorsing sal moontlik gedoen word oor hoe om plaaslike bronne in water en krag om te skakel en nuwe strukture op te rig.

Daar sal natuurlik ook ‘n maankarretjie wees waarin ruimtevaarders kan rondry, asook ‘n ‘n soort maan-kampeerwa, waarin ruimtevaarders kan woon terwyl hulle tot 45 dae lank elders op die maan verkenningswerk doen.

Om veiligheidsredes sal geen maansending waarskynlik langer as 30 tot 45 dae duur nie.

Die Gateway-wentelstasie

Nasa se nuutste verslag (September 2020) bevat ‘n plan om uiteindelik dalk ‘n soort halfwegstasie op te rig wat as die Gateway bekend sal staan. Die Gateway sal om die maan wentel en ruimtevaarders sal daar kan “oefen” vir die uiteindelike reis Mars toe, wat verskeie maande sal duur. Hulle sal maande lank in die Gateway kan bly en van tyd gou vir ‘n dag of twee maan toe gaan.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die Gateway wat om die maan wentel. Illustrasie: NASA

Vasvrahoekie (sal interaktief wees)

  1. Wat was die naam van die eerste mens op die maan?
  2. Waar of onwaar: Apollo 1 was die eerste ruimtesending na die maan.
  3. Wat was die naam van die eerste tuig wat op die maan geland het?
  4. Hoekom word NASA se nuwe maanprogram Artemis genoem?
  5. Wat is die Gateway?

Antwoorde
1. Neil Armstrong. 2. Onwaar. ‘n Tragedie het gekeer dat Apollo 1 ooit kon opstyg. 3. Die Eagle. 4. Omdat die eerste vrou op die maan gaan land. Die eerste maanprogram was Apollo, en Artemis was die tweelingsuster van die Griekse god Apollo. 5. ‘n Ruimtestasie wat om die maan sal wentel.

Nog inligting

Hierdie video verduidelik mooi hoe die Gateway-stelsel sal werk.

Artikel deur Cum Laude Media en Joan van Zyl

Bronne: dailymail.co.uk, theatlantic.com, bbc.com, nasa.gov, Reis na die ruimte (Huisgenoot, 2016)

This image has an empty alt attribute; its file name is button-terug.jpg