Jupiter: reus van die planete

Illustrasie: NASA

AAN die ander kant van Mars gaan ons ’n heel ander deel van die sonnestelsel binne. Die vier buiteplanete wat hier aangetref word, is nie rotsagtige planete soos die kleiner binneplanete nie. Nee, hulle is yskoue, enorme gasbolle wat baie ver van die son af lê.

Weet jy watter vier planete die buiteplanete uitmaak? Dit is natuurlik Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus.

Jupiter is die vyfde planeet van die Son af. Die Romeine het lank gelede al van hierdie planeet geweet, want dit is een van dié wat wel met die blote oog sigbaar is. Naas die son, ons maan en Venus, is Jupiter ook die helderste voorwerp in ons sonnestelsel. Dit het gehelp dat die ou Romeine hierdie planeet kon sien en hulle het dit na hul hoofgod, Jupiter, genoem.

Hoe lyk en voel dit op Jupiter?

Het jy al gewonder hoe dit moet voel om op Jupiter te staan? Wel, daar’s ‘n probleem – jy kan nie! Die oppervlak van Jupiter is nie solied soos die Aarde s’n nie. Die planeet bestaan meestal uit waterstof, die ligste van al die elemente. Dit sal wees soos om op ‘n wolk te staan en al wat gaan gebeur, is dat jy tot diep in die planeet sal wegsink, waar die enorme druk jou gou sal vergruis.

Die swaartekrag op die oppervlak van Jupiter is intens (2,5 keer meer as op Aarde), met die gevolg dat jy op Jupiter baie meer sal weeg as hier.

Die enigste manier waarop jy dalk kan uitvind hoe Jupiter lyk en voel, is deur ‘n spesiale ruimtetuig te hê wat geweldige druk, geweldige bestraling en geweldige hitte kan weerstaan.

Jy moet vooraf maar ‘n paar seesiekpilletjies drink, want jou ruimtetuigie gaan wild skommel. Jupiter draai die vinnigste van al die planete en dit veroorsaak geweldige orkane wat jou tuigie omtrent sal rondklap. Dan is daar nog storms, donderweer en weerlig waarmee jy rekening moet hou.

Hoe dieper jy in die planeet afsak, hoe donkerder sal dit word, hoe digter en hoe warmer – later baie warmer as die son se oppervlak.

Nee wat, Jupiter is nie ‘n plek om te gaan woon nie. As jy regtig in daardie omgewing wil bly, kan jy eerder een van Jupiter se mane oorweeg. Die planeet het meer as 60 mane, maar Callisto en Europa kan moontlik heenkoms bied (lees meer ondertoe in die artikel).

Hierdie video verduidelik hoe dit sal voel om deur Jupiter te reis.

Dis dieselfde as op Aarde

Op die oog af is daar geen ooreenkomste tussen Jupiter en die Aarde nie, maar daar is tog een of twee dinge wat dieselfde is.

Albei planete het soortgelyke magnetiese velde, maar Jupiter s’n is omtrent vier keer sterker as die Aarde s’n.

Daarby het albei planete ook auroras – ‘n pragtige spel van ligte in planete se atmosfeer. Op Jupiter is die auroras net baie sterker en word hulle deur interne energie veroorsaak, terwyl auroras op Aarde veroorsaak word deur ione van sonwinde wat teen suurstof- en stikstofatome in die Aarde se atmosfeer bots. Op Aarde is die noorder- en die suiderligte voorbeelde van auroras. Die noorderligte is in die winter vanaf lande soos Groenland, Ysland en Noorweë te sien en die suiderligte vanaf Nieu-Seeland en Tasmanië.

Die noorderligte. Foto: Skeeze, Pixabay

Dis anders as op Aarde

‘n Massiewe planeet

Die Aarde sal soos ’n dwerg lyk as jy dit langs Jupiter kon neersit. Jupiter weeg sowat 318 keer meer as die Aarde. Sy volume is nog groter – meer as 1 300 keer die grootte van die Aarde s’n.

Groot bol gas

Die grootste planeet in ons sonnestelsel is eintlik net ’n digte bol gas met geen soliede oppervlak nie. Dit bestaan hoofsaaklik uit waterstof en helium. Hoe nader aan die kern, hoe digter word die gas waaruit dit bestaan tot dit ’n vloeistof vorm en uiteindelik solied word.

Kenners reken Jupiter het dalk ’n kern van rotsvormende minerale, maar dit maak skaars 5 persent van die planeet se massa uit.

Jupiter het soos die Aarde ook ’n atmosfeer waarin gas en wolke baie vinnig beweeg. Dit beweeg trouens so vinnig dat die gas en wolke soos modder na buite geslinger word terwyl die planeet draai. Dit bly nog ’n groot raaisel waarom dit gebeur, maar wetenskaplikes vermoed dit hou verband met die hoë spoed waarteen Jupiter om sy eie as draai.

‘n Lang jaar en ‘n superkort dag

Jupiter is byna vyf keer so ver van die Son as die Aarde – gemiddeld 778 miljoen kilometer. Omdat die planeet so ver lê en so enorm is, draai hy baie stadiger om die son as ons. Terselfdertyd draai hy vinniger as die Aarde om sy eie as.

Daarom is ‘n jaar op Jupiter so lank soos 11,9 Aardjare, en ‘n dag op Jupiter net 9,9 uur.

Met mane gepla

Die Aarde het net een maan, maar in 1610 het die Italiaanse fisikus en sterrekundige Galileo Galilei met sy primitiewe teleskoop vier klein “sterre” na aan Jupiter waargeneem.

Hy het nie besef hy het eintlik Jupiter se vier grootste mane ontdek nie: Io, Europa, Ganymede en Callisto. Hulle staan vandag as die Galileise satelliete bekend. (’n Satelliet is enigiets wat om iets anders wentel. Mane word ook soms in die sterrekunde natuurlike satelliete genoem.) Al vier mane is groot genoeg dat jy hulle sommer met ‘n gewone verkyker kan sien.

Links bo: Die vier Galileise mane (regsom van bo: Europa, Io, Callista en Gayemede. Foto: Nasa. Regs bo: Galileo Galilei.

Galilei sou omtrent verstom gewees het as hy geweet het wetenskaplikes het intussen altesaam 79 mane om Jupiter ontdek – en dalk is daar nog ‘n paar wat steeds vir teleskope wegkruip.

Hoekom het Jupiter so baie mane? Weens sy enorme grootte en swaartekrag trek hy kleiner hemelliggame aan wat dan om hom wentel. ‘n Mens kan amper sê Jupiter werk nes ‘n sonnestelsel.

Kan ons dalk op ‘n maan land? Dis onmoontlik om op Jupiter te land, maar dalk nie op sy mane nie. Wetenskaplikes stel veral belang in Europa, wat ‘n enorme oseaan onder sy ysdop wegsteek. Dit sal egter uiters gevaarlik wees, want dis ysig koud en daar is baie gevaarlike kosmiese strale. Maar as wetenskaplikes dit te bowe kan kom, is Europa een van die mees bewoonbare hemelliggame in ons sonnestelsel.

Nasa beplan juis om Europa in die mid-2020’s van nader te bekyk en in die toekoms dalk selfs ‘n tuig daar te land.

Dinge met ringe

Die Aarde het geen ringe nie, maar Jupiter het altesaam vier stelle. Die baie vae ringe is die eerste keer in 1979 raakgesien toe die ruimtetuig Voyager 1 verby Jupiter gevlieg en “teruggekyk” het.

Die ringe word veroorsaak deur stofdeeltjies wat om die planeet wentel. Die stofdeeltjies ontstaan wanneer klein metore teen Jupiter se mane bots.

Twee foto’s van Jupiter se hout­skoolswart ringe. Die boonste foto wys drie goed gedefinieerde lane van gruis- tot rotsgrootte materiaal wat die grootste deel van die ringe uitmaak. Die onderste foto, geneem met die son agter die ringe, lyk wasig weens die wolk van stofgrootte deeltjies wat die ringe omhul. Foto: NASA

Planeet van storms

Jupiter was die god van donderweer en die hemelruim. Soos die naam sê, is dit dan ook die planeet van storms. Jupiter se bekendste storm is die Groot Rooi Kol, ’n groot, kolkende hoëdruk-gebied. Op die prente by hierdie artikel lyk die kol dalk nie so groot nie, maar dit is groot genoeg dat drie Aardes sy aan sy gemaklik daarin sou kon pas. Dit word die Groot Rooi Kol genoem omdat dit vermoedelik fosfor, swawel en ander deeltjies bevat wat ultraviolet, violet en blou lig absorbeer.

Jupiter se moedervlek of Groot Rooi Kol – ’n stormagtige gebied waarin byna drie Aardes kan pas. Hierdie storm woed al minstens 340 jaar en genereer winde van sowat 620 km per uur. Foto: Nasa

Is daar al ruimtetuie Jupiter toe gestuur?

Altesaam nege ruimtetuie het Jupiter al sedert 1997 besoek. Sewe het verbygevlieg, en twee het om die planeet gewentel. Die mees onlangse wenteltuig, Juno, het in 2016 daar opgedaag.

Toekomstige sendings na Jupiter se mane word beplan, onder meer ‘n verbyvlieg-sending deur die Europese Ruimte-agentskap en ‘n sending Europa toe deur Nasa se Europa Clipper.

Prethoekie

Wonder jy hoeveel jy op Jupiter sal weeg? Klik op die prentjie hieronder en werk uit wat jou gewig daar (of op enige ander planeet) sal wees.

Vasvrahoekie (sal interaktief wees)

  1. Hoeveel mane het Jupiter?
  2. Waar of onwaar: Jupiter se oppervlak bestaan uit rots.
  3. Hoeveel keer groter as die Aarde is Jupiter?
  4. Noem twee eienskappe wat die Aarde en Jupiter deel.
  5. Wat word die groot stormagtige gebied op Jupiter genoem?

Antwoorde
1. 79. 2. Onwaar, die planeet bestaan uit gas. 3. Meer as 1 300 keer. 4. ‘n Soortgelyke magnetiese veld en auroras. 5. Groot Rooi Kol.

Nog inligting

Kyk hierdie National Geographic-video oor Jupiter.

Artikel: Cum Laude Media. Verwerk en bygewerk deur Joan van Zyl

Bronne: universetoday.com, science.com, sciencing.com, space.com

This image has an empty alt attribute; its file name is terug-na-planete-1.jpg
This image has an empty alt attribute; its file name is button-terug.jpg