Voorwaarts na Mars

Van al die planete is Mars een van die maklikstes om van die Aarde af te bestudeer, want dis betrek­lik naby en snags maklik sigbaar. Wetenskaplikes stel baie in Mars belang omdat dié planeet meer soos die Aarde is as enige van die ander planete in die sonnestelsel. Dit lyk of daar in ’n stadium riviere, strome en selfs ’n oseaan op die planeet was.

Mars is die heel eerste planeet wat deur mense besoek sal word – en boonop ook nie so ver in die toekoms nie.

Al is die atmosfeer op Mars baie dun, is die planeet so soortgelyk aan die Aarde dat mense eendag selfs daar sal kan gaan woon.

Talle voorbereidsels word die afgelope jare getref om die tog Mars toe en verblyf daar moontlik te maak, van eksperimente by die Internasionale Ruimtestasie tot besoeke aan Mars deur ‘n hele rits ruimtetuie. Party van dié tuie bekyk Mars terwyl hulle daarom wentel; ander ry op die oppervlak van die planeet rond. Mars is die enigste planeet waarheen die Aarde al karretjies gestuur het wat op Mars se oppervlak ry, foto’s neem, grond ontleed en afmetings doen.

Lees meer: Die mens se reis na Mars

Hoe voel en lyk dit op Mars?

As jy op Mars staan en om jou rondkyk, is al wat jy sien ‘n uitgestrekte, leë, rooi woestyn. Die rooiheid kom van al die roesdeeltjies (ysteroksied genoem) wat in die grond en klippe gevind word. Dis wat aan Mars sy bynaam gee: die Rooi Planeet.

Die wêreld om jou sal jou ‘n bietjie aan die Aarde herinner want daar’s berge en valleie. Nie dat jy altyd kan sien hoe dit om jou lyk nie – Mars is berug vir sy enorme stofstorms en hoëspoedwinde wat stof kilometers ver die lug inskop sodat dit soms die grootste deel van die planeet bedek. Party storms is so geweldig dat hulle deur amateur-sterrekundiges van die Aarde af gesien kan word.

Maak seker jy land in die somer op Mars se ewenaar, anders gaan jy jou vingers en tone afvries. Omdat die planeet so ver van die son af is, is hy meestal yskoud. Die enigste tyd wanneer dit ‘n bietjie warmer is, is in die middel van die dag in die middel van die somer op die middel van die planeet (dus op die ewenaar).

Kyk gou in die lug op. Sowaar, daar’s wolke, nes by ons! Jy kan ook die son sien, maar hy lyk veel kleiner as van die Aarde af omdat hy verder weg is. As dit donker word, kom nie net een maan op nie, maar sommer twee.

Probeer nou spring. Pasop, voor jy jou kom kry spring jy sommer drie keer hoër as op Aarde. Boing! Dis omdat Mars se swaartekrag – die krag wat ons op die grond hou – baie swakker is as hier by ons.

Dié video verduidelik wat jy kan verwag as jy op Mars sou land.

Dís dieselfde as op Aarde

Mars en die Aarde is baie eenders, al is Mars veel kleiner. Soos die Aarde is dit ook ‘n rotsagtige planeet met yspole, vulkane, berge en skeurvalleie. En net soos ons het Mars ook weer en seisoene.

Die vulkane op Mars is almal al baie lank onaktief. Maar Mars spog met die hoogste berg in ons sonnestelsel: ‘n vulkaan met die naam Olympus Mons. Die vulkaan is ‘n yslike 24 kilometer hoog –– dis omtrent drie keer so hoog soos Everest, die Aarde se hoogste berg!

‘n Dag op Mars en ‘n dag op Aarde is albei amper ewe lank. ‘n Mars-dag word ‘n sol genoem en is 24 uur 37 minute lank.

Nes ons het Mars ‘n maan – eintlik nie een nie, maar twee. Hul name is Phobos en Deimos.

Dís anders as op Aarde

Lug

Anders as die Aarde, het Mars ‘n baie dun atmosfeer wat meestal uit koolsuurgas (koolstofdioksied) bestaan. Op Aarde beskerm ons atmosfeer ons teen die meeste skadelike strale van die son, asook teen ander kosmiese strale. Op Mars dring hierdie gevaarlike strale deur die dun atmosfeer, sodat ‘n mens daar die gevaar het om kanker en skadu aan die senustelsel op te doen.

Daar was waarskynlik in ‘n stadium ‘n stewiger atmosfeer, maar dit is weggewaai deur stofstorms wat deur die son veroorsaak is.

Water

Mense het dekades lank gemeen dat daar geen water op Mars is nie, maar in 2018 is spore van ‘n meer onder die planeet se suidpool-ysbedekking gevind. Dit wil ook voorkom asof daar lopende soutwater op party heuwels is.

Dit is baie opwindende ontdekkings wat die kans groter maak dat mense uiteindelik op Mars kan woon.

Daar is in elk geval heelwat tekens dat daar miljoene jare gelede oop watermassas op die oppervlak van Mars was. Daar is selfs tekens van antieke vloede.

Tyd

Hoewel ‘n dag op Mars net-net langer as ‘n Aarde-dag is, is ‘n jaar amper twee keer so lank as hier by ons. ‘n Mars-jaar duur 687 dae. Dis omdat Mars verder van die son af weg is en dit dus langer duur voor Mars een keer om die son kan wentel.

Temperatuur

Die gemiddelde temperatuur op Mars is maar –60 grade Celsius. In die hoogsomer is dit in die middel van die dag op die ewenaar darem ‘warmer: omtrent 20 grade. Maar by die noord- en suidpool kan die temperatuur tot –140 grade tuimel. Brr!

Hoe lyk Mars van die Aarde af?

Mars is al van die vroegste tye af aan mense bekend omdat dit sonder gevorderde teleskope sigbaar is. Omdat dit verder van die son af is as die Aarde, is dit makliker om in die naglug raak te sien.

Mars kom op in die deelstaat Utah in Amerika. Foto: NASA

Saam met Mercurius, Venus, Jupiter en Saturnus is Mars een van die planete wat met die blote oog gesien kan word. Hulle is vir die grootste deel van die jaar sigbaar, behalwe vir kort rukkies wanneer hulle te naby aan die son is om te sien.

Mars is taamlik maklik om te sien omdat sy kleur anders is as dié van ander planete. Al word dit die Rooi Planeet genoem, lyk dit nie regtig rooi in die lug nie; dit wissel eerder van ‘n ligte oranjegeel tot oranjerooi, afhangende van hoe ver dit van die Aarde af is (en hoe helder dit dus is).

En hoe lyk die Aarde van Mars af?

Die Aarde en ons maan is die helderste sterre aan Mars se naghemel. Die Curiosity-robottuig op Mars het in 2014 die eerste foto’s van die Aarde geneem soos van die Rooi Planeet gesien en hierdie video terug Aarde toe gestuur:

Waar kom die naam Mars vandaan?

Die planeet is genoem na die Romeinse oorlogsgod, Mars. Die planeet het moontlik sy naam gekry omdat die rooi kleur ‘n mens aan bloed herinner. Dis nie net moderne mense wat Mars die Rooi Planeet noem nie; die ou Egiptenare het daarna verwys as her desjer, wat “die rooi een” beteken.

Hierdie marmerbeeld van Mars is in die tweede eeu na Christus geskep.

Sendings na Mars

Vroeë tuie

Daar was al verskeie ruimtesendings na Mars, al het geen mens al dus dusver nog daar geland nie. Onbemande ruimtetuie is gestuur om inligting oor die planeet in te samel. Aanvanklik het die ruimtetuie net om die planeet gewentel; ander het later geland, en meer onlangs is robottuie op die planeet ontplooi wat kan rondbeweeg.

In 1965 was NASA se Mariner 4-ruimtetuig die eerste een wat nabyfoto’s van die planeet kon neem ná ’n vlug van sewe en ’n half maande. Al was hulle dof en onduidelik, het dit vir weten­skaplikes gewys daar is nie intelligente wesens op die planeet soos party mense geglo het nie. Dis eerder ’n dooie planeet wat baie soos ons maan lyk, behalwe dat hy rooi is.

Daarna het nog ekspedisies gevolg en vandag wentel daar altesaam xx tuie om Mars.

Die eerste tuie wat op die planeet geland het, was Viking 1 en Viking 2 in 1976.

Robottuie

In 1997 het die Mars Pathfinder op die planeet geland, vergesel van ‘n robottuig met die naam Sojourner. Sojourner kon soos ‘n karretjie op die planeet rondbeweeg.

Wetenskaplikes op die aarde kan robottuie soos Sojourner (en ook Spirit en Opportunity, wat in 2004 geland het) beheer en dit op Mars rondstuur. Dit werk amper soos ’n motortjie met ’n afstandbeheerder. Die robottuie kan ook die grond op die Rooi Planeet ontleed.

Moderne robottuie

Die Curiosity-robottuig het in Augustus 2012 op Mars geland, toegerus met ‘n groot klomp instrumente en kameras. Soos die ander tuie moet dit die landskap en klimaat van die planeet bestudeur. Curiosity soek veral na toestande op Mars wat lewe kan onderhou of dalk miljoene jare gelede onderhou het. in die verlede en in die hede – en Mars se bewoonbaarheid te ondersoek. Sy belangrikste ontdekking tot dusver was in 2018, toe dit organiese molekules op die planeet se oppervlak gevind het.

In November 2018 het InSight op die oppervlak van Mars geland met die doel om meer oor die kern van die planeet te wete te kom en moontlike seismiese aktiwiteit op die oppervlak te soek. Die plan met InSight is om meer te wete te kom hoe die rotsagtige planete (Aarde, Mars, Venus en Mercurius) gevorm is.

Bekyk Mars deur Curiosity se oë op dié video.


Toekomstige besoekers

Koronavirus of nie, NASA is vas van plan om in Februarie 2021 sy vierde robottuig op Mars te laat land.

Dié tuig se naam is Perserverance en hy het einde Julie 2020 die lang pad Mars toe aangepak. Perserverance is op Curiosity gegrond, maar bevat baie meer gesofistikeerde toerusting. Die plan is dat dit in Mars se Jezero-krater land waar daar miljarde jare gelede ‘n meer en ‘n rivierdelta was. Die karretjie gaan die krater fynkam op soek na tekens van uitgestorwe lewe wat dalk destyds op die rooi planeet voorgekom het.

Perserverance gaan ook die toekomstige bewoonbaarheid van die planeet deur mense ondersoek. Daar gaan onder meer gekyk word na hoe Mars se natuurlike hulpbronne ingespan kan word. Een van die opwindendste moontlikhede wat bekyk gaan word, is of al Mars se koolsuurgas tot suurstof verwerk kan word sodat mense dit kan inasem en dit ook vir die oksidasie van vuurpylbrandstof gebruik kan word.

Die idee is dat die eerste Marspioniers uiteindelik so min moontlik voorraad moet saamneem en soveel moontlik self op Mars moet kan produseer en onderhoud.

G’n wonder NASA se “Marsmanne” het hulle nie deur die koronavirus laat keer om Perserverance te lanseer nie!

Wanneer gaan mense Mars toe?

Baie van die programme wat Nasa tans en in die onmiddellike toekoms gaan aanpak, is daarop gemik om mense in die 2030’s Mars toe te stuur.

Lees hier meer oor die vuurpyl wat Mars toe sal gaan.

Lees hier meer oor hoe mense aanvanklik op Mars sal leef.

Speelhoekie

Klik op die foto onder om self ‘n Marstuig te bestuur en Marsklippe bymekaar te maak.

Vasvrahoekie (sal interaktief wees)

  1. Die hoeveelste planeet is Mars van die son af?
  2. Wat is die naam van die jongste tuig wat binnekort Mars toe gestuur word?
  3. Hoekom het Mars ‘n rooi kleur?
  4. Waar of onwaar: Mense sal vrylik om Mars kan asemhaal.
  5. Wat word ‘n Mars-dag genoem?

Antwoorde:
1. Vierde. 2. Perserverance. 3. Weens roesdeeltjies (ysteroksied) in die grond en klippe. 4. Onwaar. 5. ‘n Sol.

Lees ook

Hoe gaan mense op Mars uitkom en hoe kan ons daar leef?

Nog inligting

Kyk of jy die fliek The Martian kan opspoor. Dit vertel die storie van ‘n ruimtevaarder (gespeel deur Matt Damon) wat per abuis alleen op Mars agtergelaat word deur sy kollegas en dan daar moet oorleef tot Nasa hom kan kom haal en terug Aarde toe te neem. Dis ‘n uitstekende fliek en baie lewensgetrou omdat dit met die hulp van Nasa gemaak is.

Hier is die lokprent:

Artikel: Joan van Zyl
Bronne: netwerk24.com, sciencekids.co.nz, ducksters.com, kidsastronomy.com, wikipedia.org, theplanets.org, mars.nasa.gov, dailytelegraph.com.au, natgeokids.com, nakedeyeplanets.com