Kom ons gaan Mars toe!

‘n Kunstenaarsvoorstelling van ‘n Mars-dorp. Dié strukture is ingeskryf vir ‘n Mars-ontwerpkompetisie wat Nasa gehou het. Foto: Nasa.

Skielik is almal op pad Mars toe. Die Amerikaanse ruimteadministrasie Nasa wil mense in die 2030’s soontoe stuur, Elon Musk praat van sommer in die 2020’s al, en Rusland en China het hul oog op die 2040’s.

En Elon – die bekende Suid-Afrikaans gebore ruimte-entrepreneur – dink nie net aan vlugtige Mars-besoeke nie, hoor! As hy sy sin kry, sal daar teen 2050 ‘n stad op Mars wees en sal altesaam miljoen mense op die Rooi Planeet woon. Dit sou vir jou en my kon insluit . . .

Maar hoekom wil enigiemand op Mars woon?

Ons kan aan minstens 5 goeie redes dink.

  • Dit sal ‘n onbeskryflike triomf wees. Om mense op Mars neer te sit, sal seker die grootste prestasie van die 21ste eeu wees.
  • Dis ‘n avontuur. Dink net hoe dit sal voel om op ‘n ander planeet te woon en werk!
  • Van al die planete is Mars die meeste soos die Aarde. Die grond en klippe is baie soos op Aarde, daar is ‘n atmosfeer, die dae is byna ewe lank, en in die somer op die ewenaar is die temperatuur baie dieselfde as op ‘n aangename lentedag in Suid-Afrika.
  • Navorsing oor Mars kan baie vinniger en makliker plaasvind as dit deur mense gedoen word, eerder as deur masjiene soos nou die geval is. So kan van die grootste vrae oor die planeet makliker beantwoord word: Was daar ooit lewe op Mars? Is daar dalk steeds lewe? Wat kan Mars ons vertel van die Aarde se verlede, hede en toekoms?
  • Mars is vir mense ‘n goeie opsie as die Aarde ooit onbewoonbaar sou raak.

Tog, aan die ander kant . . .

9 goeie redes om NIE op Mars te gaan woon nie

  • Dit duur vyf tot sewe maande om daar uit te kom – en dis die maklike deel.
  • Al gaan jy net vir ‘n blitsbesoek Mars toe, sal jy altesaam sowat 18 maande van die huis af weg wees.
  • Al is die somer op die ewenaar hanteerbaar, is die res van die planeet regdeur die jaar bitter koud en is daar gereeld gevaarlike stofstorms.
  • Jy sal buite in ‘n swaar ruimtepak moet rondloop.
  • Daar is minder swaartekrag as op Aarde. Hoewel die ruimtepak jou ietwat gemakliker sal maak, is dit slegte nuus vir jou ooggesondheid, bene en spiere.
  • Daar is nie genoeg beskikbare water nie.
  • Asemhaling is ‘n probleem omdat daar baie min suurstof in die lug is.
  • Mars se lug bied min beskerming teen kosmiese strale, sodat jy ‘n groot kans het om kanker of breinskade op te doen.
  • En kan jy dink hoe duur dit sal wees om heeltyd ruimteskepe vol kos, toerusting en mediese voorraad Mars toe te stuur om die bevolking daar aan die lewe te hou? Elon Musk het byvoorbeeld uitgewerk 1 000 ruimteskepe sal nodig wees net om genoeg vitamien C op Mars te kry sodat mense nie soos die matrose van ouds aan skeurbuik sterf nie.

Al lyk die uitdagings onoorkombaar, is Nasa en heelparty maatskappye al kliphard aan die werk om al hierdie probleme te probeer oplos voor mense Mars toe gaan. Die plan is om onder meer 3D-drukkers te gebruik om toerusting uit te druk, plante ondergronds of in reuse-kweekhuise te verbou en dalk selfs met die hulp van plante en ander tegnologie suurstof te skep!

Op die Internasionale Ruimtestasie kan ruimtevaarders byvoorbeeld reeds groente kweek en eet; dit is dus moontlik om kos in die ruimte te vervaardig.

Lees ook: Voorwaarts na Mars

Hoe gaan mense op Mars kom?

Ruimtetuie wat mense kan vervoer, bestaan uit ‘n vuurpyl en ‘n kapsule. Mense reis in die kapsule en die vuurpyl sorg vir die krag wat nodig is om die kapsule die ruimte in te lanseer.

Nasa het in 2011 begin werk aan ‘n enorme vuurpyl wat groot en sterk genoeg is om ‘n kapsule Mars toe te stuur. Dié vuurpyl staan bekend as die Space Launch System of SLS en die kapsule wat hy moet vervoer, se naam is Orion.

By SpaceX, Elon Musk se ruimtemaatskappy, word daar ook dag en nag gewerskaf om ‘n Marsvuurpyl gereed te kry. Dié een se naam is Starship.

Foto bo: Die SLS. Klik daarop om ‘n animasie van dié enorme vuurpyl te sien. Foto: Nasa

Die SLS is so te sê gereed om die diep ruimte in te vaar en sy eerste sending sal waarskynlik in 2021 of 2022 wees wanneer hy Orion op ‘n onbemande vlug om die maan sal lanseer.

Dan, waarskynlik in 2024, gaan die SLS Orion weer die ruimte inneem, maar dié slag met bemanning aan boord wat op die maan sal land. Die eerste vrou ooit sal dan waarskynlik haar voete op die maan sit.

En daarna is dit voorwaarts Mars vir die SLS en Orion.

Intussen is Elon Musk se ingenieurs ook flink aan die werk om die Starship Mars-gereed te kry. Baie minder is oor die Starship bekend as oor die SLS, maar dis klaar duidelik dat die gebruik daarvan baie goedkoper sal wees as die SLS – meer as 20 dollar per kilogram wat vervoer word, goedkoper.

Dis dus geen wonder dat waarnemers bespiegel of Nasa nie uiteindelik eerder die Starship sal gebruik om Orion Mars en maan toe te neem en nie die SLS nie . . .

SpaceX is hoeka hard aan die werskaf om ‘n landingstuig vir die Orion te ontwerp nadat hulle een van drie maatskappye is wat deur Nasa gevra is om met ‘n voorstel daarvoor vorendag te kom. Dis omdat die Orion nie self op die maan kan land nie en die ruimtevaarders dus ‘n landingstuig moet saamneem waarmee hulle kan land.

Lees meer: Nasa se Artemis-maanprojek

As mense eers veilig op Mars geland het, moet hulle ‘n nedersetting oprig waar hulle kan woon en werk. Blaai na bladsy 2 om te sien hoe dit kan lyk.