Kom ons gaan Mars toe!

Hoe sal mense op Mars woon?

Die kuns sal wees om so onafhanklik moontlik van die Aarde te wees. Party wetenskaplikes meen ons sal Mars uiteindelik kan verwarm deur ‘n klomp kweekhuisgasse vry te laat, wat die water sal laat vloei en plante sal laat groei. Ons sal dalk selfs aan ons gene kan peuter om dit vir ons makliker maak om daar aan te pas, en middels kan ontwikkel wat ons meer bestand teen die gevaarlike kosmiese strale kan maak.

Maar tot tyd en wyl is dit alles wetenskapsfiksie. Hier is meer onmiddellike planne om Mars so gemaklik moontlik vir menslike verblyf te maak.

Opblaashuise

Dit kan Mars toe gestuur en later daar vervaardig word. Om die waarheid te sê is so ‘n opblaas-blyplek al in 2016 as ‘n ekstra module aan die Internasionale Ruimtestasie geheg en werk dit steeds flink voort.

Die Bigelow-opblaasmodule van die Internasionale Ruimtestasie.

3D-drukwerk

‘n Span wetenskaplikes werk tans aan tegnologie om enigiets van onderdele tot kos en selfs blyplekke op Mars te druk met die hulp van roumateriale wat op die planeet gevind kan word.

Hierdie struktuur het die eerste prys gewen in ‘n kompetisie deur Nasa waarin deelnemers ‘n 3D-woning vir Mars moes ontwerp. Dis ontwerp en gebou deur ‘n New Yorkse maatskappy met die naam AI Space Factory. Klik op die foto om ‘n video te sien waar hulle die struktuur met ‘n 3D-drukker bou.

Suurstof-verskaffing

Toetse word tans gedoen om te kyk of bakterieë en alge suurstof op Mars sal kan verskaf. Die plan is om dié organismes oor die oppervlak te strooi, waar hulle die grond sal gebruik om suurstof uit te pomp.

Mars-plase

Die grond op Mars is giftig, maar kan gesuiwer word sodat plante daar kan groei. Vars groente en vrugte sal waarskynlik in groot plaas-modules gekweek word.

So kan ‘n Marsplaas dalk eendag lyk.

Ruimtepakke

Mars-bewoners sal net buitentoe kan gaan as hulle ‘n ruimtepak aanhet.

Binnenshuise lewe

Om bestraling te voorkom sal mense soveel tyd moontlik binne moet deurbring.

In hierdie video wys Nasa hoe ‘n nedersetting op Mars aan die gang kan kom.

Terwyl daar dus nog baie besonderhede is wat uitgewerk moet word, is dit duidelik dat die mensdom se reis na Mars begin het. En selfs al duur dit ‘n bietjie langer as wat wetenskaplikes voorspel (want dit duur altyd langer!), sal die idee van mense wat op Mars woon, vir ons kleinkinders waarskynlik so alledaags wees as wat dit vir ons is dat mense op die Internasionale Ruimtestasie woon.

Artikel: Joan van Zyl

Bronne: everydayastronaut.com, upfront.scholastic.com, atlantic.com, newsroom.co.nz, spacex.com, nasa.gov, space.com