Mercurius: klein maar getrein

Mercurius. So lyk die kleinste planeet in ons sonnestelsel
van nader.


In hierdie artikel: (indien moontlik gaan ek hyperlinks insit)

  • Ruimtesendings na Mercurius
  • Waar kom Mercurius se naam vandaan?
  • Hoe lyk Mercurius?
  • Mercurius en die planete daarom.
  • ‘Kyk ‘n video oor die planeet.
  • Doen ‘n kort vasvra oor Mercurius.

Dit is gepas dat Mercurius na dié ou Romeinse god genoem is. Dis die kleinste en vinnigste planeet in ons sonne­stelsel en fassineer weten­skaplikes al eeue lank.

IN ONS sonnestelsel wentel agt planete om die son. Onthou: Pluto is eers as ’n planeet geklassifiseer, maar sy status is in 2006 na dié van ’n dwergplaneet verander.

Jy kan jou dit so voorstel: Die son is in die middel van ons sonnestelsel en die planete beweeg in bane om die son. Hierdie bane word wentelbane genoem.

Die agt planete wat om die son wentel, word in ’n binnekring en buitekring ingedeel wat deur ’n gordel geskei word. Dié gordel word die asteroïedgordel genoem en bevat die hoogste konsentrasie asteroïede in ons sonnestelsel.

Die planete wat tussen die Son en die Asteroïedgordel in hul wentelbane beweeg, word die binneplanete genoem en dié wat buite die Asteroïedgordel beweeg, die buiteplanete.

Mercurius is die planeet wat die naaste aan die Son is.

Ruimtesendings na Mercurius

Byna die helfte van Mercurius se oppervlak is tussen 1974 en 1975 deur die ruimtetuig Mariner 10 gekarteer. In 2004 het die ruimtetuig Messenger van die Aarde vertrek om verdere ondersoek na die planeet in te stel.

Messenger het in 2011 by Mercurius uitgekom ná ‘n epiese tog van byna 8 miljard kilometer!

Die tuig het vier jaar lank om die planeet gewentel voor dit in 2015 daar neergestort het. In hierdie tyd het die tuig byna 300 000 foto’s na die Aarde teruggestuur.

Messenger

Van die belangrikste bevindings van Messenger was:

  • Daar is water-ys en organiese verbindings by Mercurius se noordpool.
  • Vulkane het ‘n belangrike rol gespeel in die vorming van die planeet se oppervlak.
  • Daar is minder chemiese stowwe op Mercurius se oppervlak as wat aanvanklik gemeen is.

Die volgende sending na Mercurius sal waarskynlik eers in 2025 plaasvind,

Naaste aan die son

Mercurius is gemiddeld 58 miljoen km van die son af. Om jou ’n beter idee van die afstand te gee: Die Aarde is 150 miljoen km van die son af. As jy op Mercurius sou staan, sou die Son baie groter lyk as van die Aarde af.

As jy vir ’n lang tyd daar sou staan, sou jy ook agterkom die son lyk soms groter en ander kere kleiner. Dit is omdat die afstand tussen Mercurius en die son wissel.

Terwyl Mercurius om die son wentel, is hy soms nader en soms verder daarvan af, want Mercurius se wentelbaan om die Son is ovaalvormig. Dié planeet beweeg soms so na as 46 miljoen km aan die son verby en ander kere weer
70 miljoen km, maar dit is gemiddeld 58 miljoen km van die Son af.

Piepklein vir ‘n planeet

Mercurius is die kleinste planeet in ons sonnestelsel en het ’n deursnee van 4 879 km teenoor die Aarde se 12 756 km. Mercurius is eintlik nie veel groter as ons maan met sy deursnee van 3 475 km nie.

G’n maan of atmosfeer

Mercurius het – soos sy buurplaneet Venus – geen maan nie. Ons Aarde het een maan, terwyl die ander vyf planete almal meer as een maan het.

Dit is omdat alle materie aantrekkingskrag het – jy ook – maar hoe groter jou massa is (oftewel hoe meer jy weeg), hoe groter is jou aantrekkingskrag. Sommige planete het meer mane omdat hulle groter is en swaarder weeg.

Aangesien hulle meer massa het, is hul aantrekkingskrag meer. Meer hemelliggame word deur hulle aangetrek en wentel dan om die planeet.

Daarom wentel die planete en ander hemelliggame in ons sonnestelsel ook almal om die son – die son het die grootste massa in ons sonnestelsel en is groter as die planete en ander hemelliggame.

Mercurius is nie net maanloos nie, hy is ook bykans atmosfeerloos. Die rede daarvoor het ook met sy grootte te doen. ’n Atmosfeer is ’n laag gas om ’n planeet. Die gas word deur die aantrekkingskrag van die planeet daar gehou.

Jy weet nou dat ’n planeet met ’n groter massa ’n groter aantrekkingskrag het. Die binneplanete van ons sonnestelsel is oor die algemeen kleiner as die buiteplanete. Hul aantrekkingskrag is daarom minder en hul atmosfeer dunner of – soos in Mercurius se geval – byna afwesig.

Wonder jy waarom Mercurius so verskriklik vinnig is, of dit inderdaad die warmste planeet in ons sonnestelsel is, en hoekom die kleinste planeet in ons sonnestelsel stadig maar seker aan die krimp is? Hierdie video deur National Geographic verduidelik alles.






’n Dag op die opper­vlak van Mercurius

As jy een dag op Mercurius sou deurbring, sou jy baie gou agterkom sy oppervlak is met kraters besaai. Mercurius se oppervlak lyk trouens baie soos dié van ons maan.

Hierdie swart-wit foto’s is in die 1970’s deur Mariner 10 geneem. Kyk net al die kraters op die oppervlak van Mercurius.

Mercurius het enorme temperatuur-uiterstes wat glad nie vir aardbewoners geskik is nie.

Party sê temperature op die oppervlak van Mercurius wissel van -300 grade C bedags tot 800 grade C snags, ander sê dis tussen -173 en 427 gra­de. Hoe dit ook al sy, dit kook en vries gelyktydig op hierdie planeet en jy sal enorme temperatuuruiterstes verduur as jy daar moes vertoef.

Hoekom die naam Mercurius?

Het jy al gewonder waarom die planeet se naam Mercurius is? Dit is genoem na die ou Romeinse god Mercurius.

Volgens die ou Romeine se verhaal was Mercurius baie vinnig danksy sy sandale – en Mercurius is immers die planeet in ons sonnestelsel wat die vinnigste beweeg. Hy draai om sy eie as terwyl hy om die son beweeg. Dit kos Mercurius 59 Aarddae om een rotasie te voltooi en sowat 88 Aarddae om om die Son te beweeg.

Het jy geweet?

  • Al is Mercurius nader aan die son as Venus, is Venus warmer. Venus se digte atmosfeer sorg vir ’n kweekhuiseffek wat dit warmer maak. Aangesien Mercurius byna geen atmosfeer het nie, verloor die oppervlak gou sy hitte.
  • Mercurius is die planeet naaste aan die son. Tog het radioteleskope in 1991 gewys daar is moontlik tekens van ys in sy noordpoolstreek. Dit kom op plekke voor waar die sonstrale nooit val nie, soos kraterbodems. Kenners reken die ys kom van komete en waterdraende meteoriete wat Mercu­rius al getref het.
  • Jy sou nie dieselfde op Mercurius weeg as op die Aarde nie. Mense sou iets anders op elk van die planete weeg
    as gevolg van die verskille in swaartekrag.
  • Mercurius is kleiner as die Aarde en het ’n swakker aantrekkings- of swaartekrag. Jou lyf sou daarom minder tot Mercurius se oppervlak aangetrek word en jy sou minder weeg.

Pretfeite oor Mercurius

  • Mercurius is die kleinste planeet in ons sonnestelsel. As die Aarde ‘n bof- of krieketbal was, sou Mercurius ‘n ghofbal gewees het.
  • Een dag op Mercurius is 4 224 uur lank (176 Aarddae).
  • Die as van Mercurius is vertikaal en nie skuins teen ’n helling van 23,5º soos die Aarde s’n nie.
  • Mercurius is rotsagtig en het ’n harde oppervlak waarop ’n ruimtetuig sou kon land. Om hierdie rede word dit een van die aardse planete genoem. Dié soort planete sluit in Mercurius, die Aarde, Venus en Mars (ook bekend as die vier binneplanete).
  • Mercurius is oortrek van die kraters weens botsings met meteoroïede en komete.

Vasvra-hoekie (moet interaktief wees)

  1. Waar of onwaar: Mercurius is die planeet naaste aan die son.
  2. Wat is die naam van Mercurius se maan?
  3. Wat is die naam van die mees onlangse ruimtetuig wat Mercurius gaan bekyk het?

Antwoorde: Waar. 2. Mercurius het nie ‘n maan nie. 3. Messenger.

BRONNE
Al die foto’s: NASA
Artikel: Cum Laude Media