Venus: die blinkste ster aan die naghemel

Venus en sy buurman, die Aarde. Illustrasie: GettyImages/Science Photo Library/Mark Garlick

Jy het seker al van die kweekhuiseffek gehoor, nè? Dis ‘n toestand wat hier op Aarde kan ontstaan as die Aarde te warm word – en dit word veroorsaak deur te veel koolsuurgas (koolstofdioksied) in ons atmosfeer.

Op die planeet Venus is die kweekhuis-effek so erg dat wetenskaplikes dit ‘n weghol-kweekhuis noem. Dis omdat 96,5 persent van Venus se atmosfeer uit koolstofdioksied bestaan en die planeet boonop deur ‘n dik wolklaag van swaelsuur omring word. Dit vang al dit hitte op die planeet vas en niks kan daardeur kan ontsnap nie.

As gevolg daarvan is Venus die heel warmste planeet in ons sonnestelsel – selfs warmer as Mercurius, wat baie nader aan die son is.

Hoe lyk en voel dit op Venus?

Venus is in party opsigte baie soos die Aarde, en in ander opsigte weer heeltemal anders.

Eeue gelede het mense gedink Venus moet ‘n lieflike tropiese planeet wees omdat dit van die Aarde af so pragtig lyk: blink en helder en skitterend.

Maar intussen het heelparty ruimtetuie al besoek by Venus afgelê en dit selfs reggekry om deur die swaelsuur-wolk te dring. So het wetenskaplikes agtergekom dat Venus wel van ver af pragtig is, maar dat die omstandighede op die planeet eintlik aaklig is: droog en verskriklik warm, met ‘n druk wat geen mens kan weerstaan nie.

Die rotse op Venus is gryserig, nes op die Aarde. Maar as jy die hitte en druk sou weerstaan en op Venus se oppervlak land, sal die rotse om jou geel lyk weens die dik wolklaag om die planeet. Die lug sal lyk soos op ‘n baie bewolkte en dynserige dag op Aarde, en word verlig deur weerligstrale wat die een ná die ander om jou blits. Pas ook net op dat ‘n orkaan jou nie omwaai of ‘n vulkaan neffens jou uitbars nie!

Hierdie video verduidelik hoe dit vir ‘n mens op Venus sal voel.

Dís dieselfde as op Aarde:

Venus en die Aarde het albei min of meer dieselfde massa en is byna ewe groot, hoewel die Aarde ‘n bietjie groter is. As gevolg van hierdie gedeelde eienskappe word die twee dikwels susterplanete genoem.

Die bou van Venus is ook soortgelyk aan die Aarde s’n: ‘n ysterkern, ‘n vuurwarm mantel en ‘n rotsagtige kors.

Nes die Aarde, Mars en Mercurius is Venus ook ‘n rotsagtige planeet. Die ander planete bestaan almal uit gas. Die vier rotsagtige planete word die landplanete of terrestiale planete genoem.

Soos ons het Venus ook berge, valleie, kraters en duisende vulkane. Daar is vreeslik baie kraters en almal is baie groot. Dis omdat kraters veroorsaak word deur ander hemelliggame wat teen ‘n planeet bots, maar die meeste klein hemelliggame brand in Venus se dik wolklaag uit voor hulle op die oppervlak van die planeet kan land. Net groot meteore en ander hemelliggame haal dit tot op die planeet, en veroorsaak dan enorme kraters.

Die grootste berg op Venus se naam is Maxwell Montes, wat 8,8 km hoog is en soortegelyk is aan Everest, die hoogste berg op Aarde (8,48 km).

Die Maat Mons-vulkaan op Venus, met tekens van lawastrome wat afgevloei het. Foto: JPL/NASA

Dís anders as op Aarde

Geen water

Anders as die Aarde is daar geen water op Venus nie. Wetenskaplikes dink daar was dalk miljarde jare gelede water, miskien selfs oseane, maar dit het alles weens die verskriklik hitte opgedroog. Nou is die enigste riviere op die planeet van lawa gemaak.

Hewige lugdruk

Daar heers ongelooflike druk op Venus. Die druk van die atmosfeer is 92 keer swaarder as op Aarde. Dis een van die redes waarom daar geen klein kraters op die planeet is nie: klein asteroïede word sommer platgedruk wanneer hulle die atmosfeer binnekom. As jy op die oppervlak van Venus sou staan, sou die druk op jou dieselfde wees as wanneer jy 1,6 km diep onder die see op Aarde sou wees  – byna 10 keer swaarder as op die Aarde!

Verskriklike hitte

Venus is die heel warmste planeet in ons sonnestelsel met ‘n gemiddelde oppervlaktemperatuur van 462 grade Celsius. Dis warm genoeg om metaal te laat smelt!

‘n Laaaang dag

Omdat Venus nader aan die son is as die Aarde, het die planeet minder dae nodig om een keer om die son te wentel en so ‘n jaar te voltooi. Een jaar op Venus is net 225 Aarde-dae lank.

Daarby draai Venus verskriklik stadig om sy eie as; die stadigste van ál die planete. Een draai duur ‘n volle 243 Aarde-dae. Een dag op Venus is dus 243 Aarde-dae lank.

‘n Dag op Venus duur dus langer as ‘n jaar op Venus!

Omdat die planeet so stadig draai, is sy magnetiese veld ook baie swakker as die Aarde s’n.

Agterstevoor en regop

Die meeste planete draai vorentoe om hul eie as, maar Venus draai agtertoe. As gevolg daarvan kom die son in die weste op en sak dit in die ooste, net mooi andersom as op Aarde.

Wetenskaplikes meen ‘n hemelliggaam het in ‘n stadium so hewig teen Venus gebots dat die planeet skoon in die teenoorgestelde rigting begin tol het.

Die enigste ander planeet wat ook agtertoe wentel, is Uranus.

Nog ‘n groot verskil tussen Venus en die Aarde is dat die Aarde effens om sy as gekantel is, terwyl Venus glad nie gekantel is nie. As gevolg daarvan is daar geen seisoene op Venus nie.

‘n Dik wolkbank

Venus se atmosfeer bestaan uit twee breë lae: ‘n dik wolkbank wat die hele planeet bedek, en ‘n ander een wat alles onder die wolkbank insluit.

Die wolkbank is baie dig en bestaan uit swaelsuur en swaeldioksied. Die atmosfeer daaronder bevat meestal koolsuurgas, asook wolke wat deur swaelsuurdruppels gevorm word.

Hoe lyk Venus van die Aarde af?

Venus is een van die planete wat met die blote oog vanaf die Aarde gesien kan word. Naas die maan is dit die tweede helderste voorwerp in the naglug.

Links: Venus in die naghemel. Foto: Bancroft Media/GettyImages. Regs: Venus (heel links), die maan en Jupiter kort voor dagbreek. Foto: Gary Hershorn/GettyImages.

As ‘n mens vanuit die ruimte na Venus kyk, lyk dit helderwit. Dis omdat die dik wolklaag om die planeet die son se lig weerkaats.

Omdat Venus met die blote oog gesien kan word, is dit onseker wanneer dit “ontdek” is. Dis egter al in die 17de eeu v.C. deur Babiloniese sterrekundiges beskryf.

Antieke beskwawings het gemeen dat Venus eintlik twee sterre is. Dit was omdat dit in die oggend én in die aand uitgekom het. Daarom is die ander name vir Venus Oggendster en Aandster.

Eintlik kom Venus nie twee keer op nie. Terwyl dit wentel, haal die son die Aarde se wentelbaan in en dan sien ons dit saans (ná sonsondergang) pleks van soggens (voor sonsoopkoms). Ons kan dit nie in die dag sien nie omdat die son dan te helder is.

Die eerste wetenskaplike wat besef het Venus is eintlik net een ster, was die wiskundige Pythagoras in die sesde eeu V.C. Die Italiaanse sterrekundige Galileo Galilei het in die 1600’s uitgewerk dat Venus om die son wentel.

Waar kom die naam Venus vandaan?

Venus was die Romeinse godin van liefde en skoonheid. Al die planete in ons sonnestelsel is na manlike gode of mitologiese skepsels genoem, behalwe vir Venus.

Venus is die enigste planeet wat na ‘n vrou genoem is, waarskynlik omdat dit die helderste planeet is.

Die Romeinse godin Venus, soos sy omstreeks 1486 geskilder is deur die Italiaanse kunstenaar Sandro Boticelli.

Is daar al ruimtetuie Venus toe gestuur?

Ja, baie tuie is al soontoe gestuur en in 1970 het die eerste een op die oppervlak geland: Venera 7, ‘n Russiese ruimtetuig. Hierdie verkenners kan egter net vir ‘n kort rukkie inligting Aarde toe stuur omdat die hitte en hewige druk die tuie binne ‘n uur of twee laat smelt en platdruk.

Verdere sendings word vir later in die 2020’s beplan en NASA hoop selfs om teen die 2030’s ‘n Venuskarrentjie te stuur wat die hitte en druk op die planeet kan weerstaan en op die oppervlak kan rondry.

Kyk hierdie video oor die ruimtesendings na Venus en wat hulle daar gevind het  – moontlik selfs tekens van lewe in die atmosfeer!

Vasvra-hoekie (sal interaktief wees)

  1. Hoe lank is ‘n dag op Venus in Aarde-dae?

2. Wie was die Venus na wie die planeet genoem is?

3. Noem drie dinge wat anders op Venus is as op die Aarde.

4. Noem twee planete wat agtertoe wentel.

5. Waar of onwaar: Soos op Mars is daar ook Venuskarretjies wat op die planeet rondry en dit bespied.

Antwoorde
225 dae. 2. Die ou Romeinse goding van liefde en skoonheid. 3. Enige drie: Geen water of seisoene; lugdruk; duur van dag en jaar; temperatuur; wentelrigting, atmosfeer; geen maan. 4. Venus en Uranus. 5. Onwaar. Weens die hewige hitte en lugdruk kan geen tuig lank genoeg op Venus oorleef om lank navorsing te doen nie.

Nog inligting

Kyk hierdie National Geographic-video oor Venus.

Artikel: Joan van Zyl
Bronne: ouruniverseforkids.com, planetsforkids.com, nasa.gov, ducksters.coo