Bou van die Aarde

Foto: GettyImages/GalloImages

Wetenskaplikes het uitgewerk dat die afstand van die Aarde se oppervlak tot by sy middelpunt 6 371 km is. Die diepste myn ter wêreld, AngloGold-Ashanti se Mponeng-myn in Gauteng, is egter net sowat 4 km diep.

Hoe op aarde kan ons dan weet wat in die dieptes van ons planeet aangaan as ons dit nog nooit gesien het nie?


So word die Aarde gepeil

Al kan ons nie die kern van die Aarde duisende kilometer onder die grond sien nie, kan ons ander waarnemings gebruik om vas te stel hoe dit daar lyk. Die belang­rikste inligting kom van seismiese golwe.

Dis energiegolwe wat deur aardbewings of groot mensgemaakte ontploffings veroorsaak word. Wetenskaplikes (seismoloë en geoloë) meet dié golwe wanneer dit deur die Aarde beweeg. Die golwe verander wanneer hulle verskillende materiale tref. Hulle word langer, korter, vinniger of stadiger. Geoloë bestudeer hierdie veranderings en maak afleidings oor wat binne-in aangaan.

’n Wetenskaplike wys na ’n tydperk van seismiese aktiwiteit op ’n seismograaf. Die gekrabbel dui beweging in die Aarde se lae aan.
Foto: GettyImages/GalloImages

Die bestaan van die Aarde se magneetveld gee kenners ook ’n idee van hoe die planeet se binnegoed werk. Die magneetveld, wat ’n kompasnaald noord laat wys en ons teen skadelike bestraling deur die son beskerm, ontstaan as gevolg van die draaibewegings van die vuurwarm vloeibare materiaal om die Aarde se middelpunt. Die draaibeweging van die Aarde wek elektrisiteit op wat die magneetveld veroorsaak.

Die leidrade wat seismiese golwe en die magneetveld verskaf, laat geoloë vermoed dat die Aarde uit verskillende lae bestaan. Dit lyk amper soos ’n perske wat middeldeur gesny is. Jy sien sy lae: ’n dun skil, die groot vlesige deel en die pit in die middel. So het die Aarde ook ’n dun kors, ’n groot laag bekend as die mantel en ’n kern in die middel.

Klik om die verskillende lae van die Aarde te sien.

Kern

Die warmste deel van ons planeet is reg in die middel. Dié kern word ingedeel in die binne- en buitekern.

Binnekern: Wetenskaplikes reken die binnekern is ’n soliede ysterbal vanweë die hoë druk. Hulle meen die radius daarvan is sowat 1 200 km.

Die binnekern tol teen sy eie spoed en het ’n temperatuur van sowat 6 000 grade C. Die draaiing en hitte wek geweldige energie op en werk as die Aarde se “enjin­kamer”.

Buitekern: Die binnekern word omring deur die vloeibare buite­kern van yster en nikkel. Dis vermoedelik sowat 2 200 km dik. Wetenskaplikes meen dis hier waar die Aarde se magneetveld opgewek word.

Hierdie video is langerig, maar verduidelik mooi wat alles in die Aarde se kern aangaan.


Mantel

Die grootste deel van die Aarde, die enorme laag om die kern, is volgens wetenskaplikes sowat 2 900 km dik. Hulle reken dit bestaan uit magma, oftewel half ­gesmelte rots.

Ons noem dié deel die mantel. Aan die bokant van die mantel is die rots harder, maar ondertoe is dit sagter en vloeibaar.

Die mantel bestaan vermoedelik hoofsaaklik uit silikaatsteen, wat ryk is aan magnesium en yster. Die intense hitte laat die steen styg. Dit koel dan af en sink weer.

Wetenskap­likes glo hierdie sirkelbeweging laat die tektoniese plate, stukke aardkors so groot soos vastelande en oseane, beweeg. (Lees onder meer oor tektoniese plate.)

Wanneer die mantel se magma deur die aardkors druk, kry ons vulkaniese uitbarstings.

Aardkors

Die Aarde se buitenste laag is tot sowat 60 km dik. Die aardkors is die oënskynlik vaste rotslaag waarop ons woon.

Daar is twee soorte: die kontinen­tale kors, waarop die vastelande rus, en die oseaniese kors, onder die seewater.
Die kors is omtrent drie keer so dik onder die vaste­lande as onder die oseane.

Die aardkors waarop ons leef, is glad nie so stil en rustig soos dit lyk nie. Die uitwerking van die mantel op die aardkors veroorsaak onder meer aardbewings, vulkane en tsoenami’s. Oor duisende jare ontstaan berge en eilande en skuif die tektoniese plate uit en teen mekaar.

Regsom van links bo: ‘n Vulkaan, ‘n aardbewing en ‘n tsoenami. Foto’s: Wikipedia, GalloImages/GettyImages

Die Aarde se kors bevat 90 bekende chemiese elemente wat verbind om allerhande nuttige minerale te vorm. Dis juis sulke gesogte elemente, waaronder goud, wat mense in diep myne soos Mponeng soek.

Die aardkors bevat meer as 5 000 bekende minerale, en tientalle nuwes word elke jaar ontdek. Die minerale vorm kristalle met bepaalde patrone. Die hardste en een van die mees gesogte minerale is diamante.

Klik op dié video om deur die lae van die Aarde te reis.

Tektoniese plate

Die aardkors is in groot plate verdeel wat op die mantel dryf. Dié tektoniese plate beweeg deurgaans teen sentimeters elke jaar – omtrent so vinnig soos jou naels groei.

Die Aarde se tektoniese plate. Foto: GettyImges/GalloImges

Aardbewings kom voor wanneer dié plate teen mekaar skuur. As dit onder die water gebeur, kan reusegolwe genaamd tsoenami’s ontstaan, wat kusstreke teister.

Wanneer die tektoniese plate teen mekaar bots, vorm groot berge soos die Himalajagebergte in Asië, waar die wêreld se hoogste piek is: die berg Everest (8 848 m hoog).

Diep trôe vorm ook wanneer die een plaat onder die ander een inskuif. ’n Bekende voorbeeld is die Mariana-trog in die westelike Stille Oseaan (11 km diep).

Agt hoofplate word op die aardkors onder­skei, maar ook talle kleiner tektoniese plate.

Hierdie video verduidelik hoe tektoniese plate skuif om vastelande, aardbewings en vulkane te laat ontstaan.

Vasvrahoekie (sal interaktief wees)

  1. Waar of onwaar: Die buitekern van die Aarde is van soliede rots.
  2. Hoeveel planete is daar tussen die Aarde en die son?
  3. Waar in die Aarde word sy magnetiese veld opgewek?
  4. Hoeveel hoof- tektoniese plate is daar op die Aarde?
  5. Noem die twee soorte aardkors.

Antwoorde

1. Onwaar; dis vloeibaar. 2. Twee: Mercurius en Venus. 3. Buitekern. 4. Agt. 5. Kontinentaal en oseanies.

Artikel: Cum Laude Media

Bronne: geology.com, bbc.co.uk, kidsgeo.com, space.com, universetoday.com, mining-technology.com, easyscienceforkids.com, wikipedia.org