Saturnus

Foto: GettyImages

DIE planeet Saturnus word as die juweel van ons sonnestelsel beskou. Dit is omdat sy ringe en mane so mooi is. Saturnus is naas Jupiter die grootste planeet in ons sonnestelsel en die sesde planeet van die son af. Die planeet is sedert antieke tye aan die mensdom bekend omdat ’n mens dit sonder gevorderde teleskope kan sien.

Hoe lyk en voel dit op Saturnus?

Oorweeg jy dit om Saturnus toe te reis? Wel, dan hoop ons jy het baie tyd! As jou ruimteskip hedendaagse tegnologie gebruik, sal dit jou omtrent agt jaar kos om daar uit te kom.

Maar moenie dadelik reguit planeet toe koers kies wanneer jy uiteindelik daar opdaag nie. Maak eers ‘n draai op Saturnus se beroemde ringe. Wees net baie versigtig want al lyk die ringe taamlik solied, bestaan hulle uit miljoene stukke los ys. Party stukkies is so groot soos sandkorrels, ander so groot soos geboue.

‘n Voorstelling van hoe Saturnus van een van sy ringe af lyk. Foto: GettyImages

Dit sal sukkel, maar gestel jy kry dit reg om van ysblok na ysblok te spring – dan sal jy sal omtrent 12 miljoen kilometer moet aflê om reg rondom die buitenste ring te loop.

Nee wat, dit gaan te lank duur en te koud wees. Kom ons gaan land liewer op die planeet self.

Oeps! Ons kan nie land nie! Daar is nie ‘n harde oppervlak waarop ons ruimteskip kan parkeer nie. Dis omdat Saturnus ‘n gasreus is wat amper net uit waterstof en helium bestaan.

Al wat ons kan doen, is om deur die verskillende lae van die planeet te duik. Eerste aan die beurt is die boonste atmosfeerlaag waar ons ons kan verkyk aan die lieflike spel van ligte, baie soos die noorderligte op Aarde. Dit word veroorsaak deur die enorme elektriese golwe wat deur die planeet se magnetiese velde uitgestuur word.

Ons volgende bestemming is die troposfeer. Dis die bron van Saturnus se weer; pas dus op vir wilde winde wat tot 1 800 km/h waai – dis meer as drie keer vinniger as die sterkste orkaan op Aarde.

A, nou kan ons ook sien waar Saturnus sy kleur vandan kry. Reg om ons drom dik, geel wolke propvol ammoniakkristalle saam. Onthou om knus binne-in die ruimteskip te bly, want die ammoniakwolke ruik nie net sleg nie – dis ook minus 250 grade Celsius daar buite!

Die volgende laag wat ons teëkom, is water wat sowat 300 km diep in die planeet lê en ‘n snoesige 0 grade Celsius is.

Hoe dieper ons daal, hoe kwaaier word die druk nou. In die volgende laag is die druk so hoog dat die watermolekules teen mekaar gepers word om ys te vorm. Die ys meng met die gasse en ons vlieg dus deur ‘n haelstorm.

Nog dieper . . . a, hier kom ons weer water teë. Dis omdat die druk hier, 1 000 km diep, so hoog is dat die waterstofdeeltjies saamgepers word om ‘n vloeistof te vorm.

‘n Deursnit deur Saturnus. Foto: GalloImages GettyImages

As ons ruimteskip tot dusver die hael, druk en temperature weerstaan het, sal hy dalk nou sy moses teëkom want die volgende laag is bestaan uit metaalwaterstof. Dié metaal kan elektrisiteit gelei en dit sal waarskynlik finaal klaarspeel met al die elektroniese toerusting aan boord, as die temperatuur van 83 000 grade Celsius dit nie doen nie.

Maar as ons hier oorleef, kan ons dalk een van die tergendste geheime van ons sonnestelsel oplos: Is Saturnus se yster-en-nikkel-kern solied of vloeibaar?

Wie kom saam Saturnus toe?

Dís dieselfde as op Aarde

Die makliker om die verskille tussen ons planeet en Saturnus raak te sien, maar daar is tog ‘n ooreenkoms of twee.

Die swaartekrag op Saturnus is soortgelyk aan die Aarde s’n. As jy op die oppervlak sou kon loop (wat jy nie kan doen nie), sou jy amper dieselfde swaartekrag gevoel het as op Aarde.

Ander ooreenkomste sluit in dat albei planete magnetiese velde en albei seisoene het. Maar op Saturnus duur ‘n seisoen omtrent sewe jaar.

Dís anders as op Aarde

Grootte

As jy Saturnus met die Aarde wil vergelyk, sal dit wees soos om ’n sokkerbal langs ’n albaster te plaas – die Aarde is natuurlik die piepklein albastertjie. Saturnus se deursnee by sy ewenaar is nege en ’n half keer so groot soos die aarde s’n. Altesaam 764 Aardes pas in een Saturnus!

Saturnus weeg 95 keer meer as die Aarde.

So vergelyk die Aarde se grootte met Saturnus s’n. Foto: GalloImages GettyImages

Temperatuur

Anders as op die Aarde is daar geen moontlikheid vir lewe op dié planeet nie. Die temperatuur op Saturnus is gemiddeld ’n ysige -138 °C.

Kort dae en ‘n laaang jaar

Dit kos Saturnus 10 uur, 32 minute en 35 sekondes om een rotasie (omwenteling) om sy eie as te voltooi, terwyl dit hom 29 en ’n half aardjare neem om een keer om die son te wentel. Sy “dae” snel dus verby, maar sy jaar duur ’n halwe leeftyd.

Digtheid

Die Aarde is die digste planeet in die sonnestelsel, terwyl Saturnus die minste dig is. Die Aarde is omtrent 8 keer digter as Saturnus.

Gas

Saturnus staan as ‘n gasreus bekend en bevat meestal waterstof (96 persent) en helium (3 persent).

Ringe

Saturnus spog met asemrowende rin­ge wat selfs honderde jare gelede met basiese teleskope van die aarde waargeneem kon word.

Die Italiaanse wetenskaplike Galileo Galilei het die ringe die eerste keer in 1610 beskryf. Galilei het eers gedink hy het mane ontdek, maar die Nederlandse sterrekundige Chris­tiaan Huygens het jare later vasgestel dis ringe rondom die planeet.

Dis nie presies bekend wat die ringe om die gasplaneet veroorsaak het nie, maar ons weet dit bestaan uit ysdeeltjies en ’n klein aantal stofdeeltjies wat plat skywe van omtrent 282 000 km wyd vorm; die ringe self is maar sowat 20 m dik.

Saturnus se magnetiese veld suig die ys in die ringe na die planeet toe sodat dit lyk of stukkies ys op die planeet neerreën – dit word ringreën genoem. Elke 30 minute word genoeg ys uit die ringe verwyder om ‘n Olimpiese swembad vol te maak! Daar word geraam dat hierdie proses sal veroorsaak dat die ringe oor 300 miljoen jaar heeltemal sal verdwyn.

Daar is ’n stel van sewe hoofringe met ruimtes tussen hulle. Daar is dan ook sewe hoofgroepe waarin die ringe verdeel word, ge­nommer A tot G. Elkeen het sy naam gekry in die volgorde waarin dit ontdek is. Die ringe wat vanaf die aarde die duidelikste gesien kan word, is A, B en C. Tussen hierdie ringe is gapings, waarvan die gaping tussen A en B die grootste is.

Twee keer elke 29 en ’n half jaar lyk dit asof Saturnus sy ringe verloor. Dit gebeur wanneer die planeet se ringstelsel op sy rand of sy draai en so plat is dat dit nie vanaf die aarde gesien kan word nie.

Saturnus se ringstelsel is die opvallendste een in ons sonnestelsel wat al gevind is. Dis die ysdeeltjies waaruit die ringe bestaan wat dié ringe van die Aarde af sigbaar maak – die ys weerkaats baie sonlig.

Mane

Waar die Aarde net een maan het, het Saturnus ‘n volle 82. Dit maak hom die planeet met die meeste mane in ons sonnestelsel. Die grootste maan staan as Titaan bekend.

In 2005, tydens die Cassini-Huygens-sending, het die Huygens die landingstuig geword wat die verste nog van die Aarde ge-land het.

Die Huygens-landingstuig het aan wetenskaplikes effens dowwe maar besonderse fo­to’s van die maan Titaan verskaf.
Ons weet nou dat Titaan Saturnus se grootste maan is, maar het jy geweet dat dit ook die tweede grootste maan in die sonnestelsel is? Net Jupiter se maan Ganumedes is groter.

‘n Foto wat die Cassini-tuig van Titaan geneem het. Foto: NASA/JPL/Space Science Institute

Benewens die Aarde is Titaan die enigste ander liggaam in ons sonnestelsel waar stabiele op­pervlakvloeistof gevind is. Daar is mere op Titaan, maar dit bestaan uit vloeibare metaan, nie water soos by ons nie. Dié maan is ook die enigste een in ons sonnestelsel met ’n digte atmosfeer.

Wat was die Cassini-Huygens-sending?

Die Cassini-Huygens-sending word as een van die gevorderdste ont­dekkingsreise in die geskiedenis van onbemande ruimteverkenning beskou.

Die wenteltuig Cassini het 294 keer tussen 2004 en 2017 in ’n wentelbaan om Saturnus beweeg, terwyl sy landingstuig, Huygens, wat aan die Cassini gekoppel was, op Titaan geland het.

Die tuig Huygens. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Cassini-Huygens-sending was ’n inter­nasionale projek waarvan die Amerikaanse ruimteadministrasie, Nasa, die Europese ruimte-agentskap, ESA, en die Italiaanse ruimte-agentskap, ASI, deel gevorm het.

Cassini-Huygens is op 15 Oktober 1997 van die aarde gelanseer, waarna dit eers op 1 Julie 2004, ná ’n reis van byna sewe jaar, om Saturnus begin wentel het.

Die Cassini-Huygens-tuie is genoem na die sterrekundige Giovanni Domenico Cassini en die Nederlandse wetenskaplike Christiaan Huygens. Cassini het in die 17de eeu vier van Saturnus se mane ontdek asook die vreemde gaping in die ringstelsel, wat nou die Cassini-gaping genoem word. Huygens het die maan Titaan in 1655 ontdek.

Kyk op dié video wat die Cassini-tuig alles op sy reis gesien het.

Na wie is Saturnus genoem?

Saturnus is na die ou Romeinse god van landbou genoem. Volgens die mite het Saturnus mense geleer boer. Hy was ook die Romeinse god van tyd en dit kan wees waarom die stadigste van die vyf helder planete wat die ou Romeine van die Aarde af kon sien, na hom genoem is.

‘n Borsbeeld van Saturnus. Foto: Yamen, CC BY-SA 4.0, via Wikimedia Commons

Vasvrahoekie

  1. Watter dag van die week kry sy naam van Saturnus?
  2. Is die kern van Saturnus vloeibaar of solied?
  3. Waar of onwaar: Saturnus se ringe bestaan meestal uit stukke ys.
  4. Hoe lank is ‘n jaar op Saturnus?
  5. Hoe lank sou dit duur om vandag van die Aarde na Saturnus te reis?

Antwoorde
1. Saterdag. 2. Niemand weet nie. 3. Waar. 4. 29,5 aardjare. 5. Agt jaar.

Nog inligting

Deur Joan van Zyl en Cum Laude Media

BRONNE: BUSINESSINSIDER.COM, NASAG.GOV, SPACE.COM, UPFRONT.SCHOLASTIC.COM, UNIVERSETODAY.COM, MIELIESTRONK.COM, RSGPLUS.ORG, THEPLANETS.ORG, WIKIPEDIA.ORG, JPL.NASA.GOV