Die Melkweg

‘n Suid-Afrikaanse glimp van die Melkweg soos gesien van die Nasionale Wildernispark op die Tuinroete in die Wes-Kaap. Foto: dreamstime.com

As jy in gedagte hou dat ons son ‘n ster is en die Melkweg die sterrestelsel waarin ons sonnestelsel voorkom, praat ons van ontelbare sterre. As jy vandag aan die sterre in ons sterrestelsel begin tel, sal dit jou duisende jare neem om almal te tel. 

Die Melkweg is ‘n spiraalstelsel – oftewel in die vorm van ‘n spiraal – van middelmatige grootte as jy dit met ander sterre­stelsels vergelyk. Na raming is daar tussen 200 en 400 miljard sterre in die Melkweg.

Benewens sterre word gaswolke ook in ons sterrestelsel aangetref. Ons sonnestelsel bevind hom in een van die Melkweg se spiraalarms. 

Wat is die Melkweg se arms?

Die Melkweg het ‘n sentrale verdikte kern en spiraalarms wat van binne na buite loop. Die twee hoofarms staan as die Sagittarius- en Perseus-arm bekend.

Die sentrum van die Melkweg soos gesien deur NASA se Spitzer-ruimteteleskoop. Foto: NASA.

Ons sterrestelsel het nog twee arms wat as die Scutum-Crux- en Norma-­arm bekendstaan. Dié arms het hulle uit die Sagittarius-arm losgeruk.

Hierdie illustrasie deur R. Hurt wys die verskillende arms van die Melkweg. Die rooi pyl wys na ons sonnesestelsel. Illustrasie: NASA/JPL-Caltech

Ons Melkweg is nie alleen nie. Hy bevind hom in ‘n groep van meer as 50 sterrestelsels wat die Plaaslike Groep genoem word. Dié groep se swaartekragmiddelpunt lê iewers tussen die Melkweg en die Andromeda-sterrestelsel.

Die sterrestelsels van die Plaaslike Groep het ’n deursnee van sowat 10 miljoen ligjare.  (Een enkele ligjaar is 9,46 triljoen km lank.)

Hoe die Melkweg ontstaan het

Die Melkweg is sowat 13 miljard jaar oud. Wetenskaplikes sê vandag dat toe die Melkweg miljarde jare gelede gevorm het, ’n superswaar swartkolk (of swartgat) ook ontstaan het.

Hulle vermoed dit het gebeur toe ’n massiewe gaswolk op homself ineengestort het en hulle meen alles in die Melkweg wentel om hierdie swartkolk.

Is daar dan melk in die Melkweg?

Die ou Egiptenare het geglo die helder sterreband wat hulle snags in die hemel sien, het ontstaan uit die melk afkomstig uit die uier van ‘n hemelse koei. 

By die ou Grieke het ‘n soortgelyke gedagte oor die Melkweg bestaan. Hulle het geglo toe die god Zeus die baba Herakles aan sy vrou, die godin Hera, gegee het om te soog, het Hera besef dis nie haar kind nie. Sy het die baba toe heftig van haar af weggestoot en die moedermelk wat gemors het, het die Melkweg aan die hemel gevorm. 

Maar vandag weet ons die wit gloed wat ons sien, is nie melk nie; dis die glans van ’n tros van miljarde sterre.

Detail van ‘n skildery van Hera, Zeus, Herakles en die ontstaan van die Melkweg. Dis in die 1500’s deur die Italianer Tintoretto geskilder.

Wat ons vandag weet

Dit was vir wetenskaplikes moeilik om te bepaal watter struktuur ons sterrestelsel het omdat ons binne-in die Melkweg is en dit dus nie van buite af kan sien nie. Die ontwikkeling van kragtige teleskope het sake mettertyd vergemaklik.

Die Duits gebore Brit William Herschel (1738-1822) was ‘n baanbreker wat die struktuur van die Melkweg nagevors het. 

Hy was die heel eerste sterrekundige wat voor­gestel het die Melkweg is skyfvormig, maar hy het verkeerdelik vermoed ons son vorm die middelpunt van hierdie skyf.

Die Nederlandse sterrekundige Jan Oort (1900-1992) het ook belangrike bydraes oor ons kennis van die Melkweg gelewer. Hy het onder meer ontdek die Melkweg draai, en hy het on­teenseglik bewys ons son vorm nie die middelpunt daarvan nie.

Hy is ook die ontdekker van donkermaterie, wat sterre­stelsels bymekaarhou, en die galaktiese halo, ‘n min of meer bolvormige ruimte wat ’n melkwegstelsel omsluit.

Jan Oort. Foto: GalloImages/GettyImages

Nog ‘n groot bydrae het van die Amerikaanse sterrekundige Harlow Shapley (1885-1972) ­gekom. Hy het die grootte van die Melkweg ­be­reken en die aarde se posisie daarin vasgestel.

Al kan ons weens ons posisie op aarde nie ons eie sterrestelsel van buite af bestudeer nie, weet ons vandag heelwat oor sterrestelsels.

Ons kan byvoorbeeld die naaste spiraal­sterrestelsel aan ons eie, Andromeda, van buite bekyk. Omdat Andromeda ook ’n spiraalvormige sterrestelsel is, leer wetenskaplikes baie deur dit te bestudeer. 

Vasvrahoekie (sal interaktief wees)

  1. Waarna verwys ‘n ligjaar: tyd of afstand?
  2. Waar of onwaar: Die Aarde maak deel uit van die Melkweg.
  3. In watter vorm is die Melkweg?
  4. Waar kom die naam “Melkweg” vandaan?
  5. Wat is die naam van die naaste spiraalsterrestelsel aan ons eie?

Antwoorde

1. Afstand. 2. Waar. 3. Spiraalvormig. 4. Die ou Egiptenare het gedink dis melk wat uit ‘n hemelse koei kom, en die ou Grieke dat dit moedersmelk is wat die godin Hera gemors het. 5. Andromeda.

Nog inligting

Artikel deur Cum Laude Media

Bronne: bbc.com, els.net, wikipedia.org, mieliestronk.com, eniscuola.net, guinnessworldrecords.com